Die 2014-kersgety, waartydens ons weer eens - onder meer - herinner is aan die koms van Christus as die Lig vir die wêreld en in wie daar geen duisternis is nie, is verby. Daarom sensitiseer die kersgety ons ook in besondere mate vir die onversoenbaarheid van lig en duisternis in die Christelike geloofskonteks. As 'n samelewingsgemeenskap-in-transformasie, vind transformasie vandag - baie subtiel - ook ten opsigte van lig en duisternis plaas.
Dit is vandag duidelik hoedat die leuen (duisternis), as voorbeeld, op ongekende skaal onstuitbaar tot waarheid (pseudo-lig) getransformeer en tot samelewingsnorm aanvaar word. Hiervoor kan gelet word op die talle simptome van die duisternissindroom soos oorvol tronke, toenemende misdaad, geweld, moord, stakings, verkragting en korrupsie, as slegs enkele kenmerke van die kontemporêr eskalerende duisternis. Bydraend tot S.A se vryval die duisternis in, is dit ook onontkenbaar deel van pres.Zuma se "goeie storie" wat hy geriefshalwe verswyg.
Daar is onmiskenbare aanduidings dat ook die ligdraende Christelike geloofsgemeenskap in die teken van transformasie verkeer. So, byvoorbeeld, transformeer die kerk vandag die Bybelse waarheidslig na duisternis met, as voorbeeld, die volslae ontkenning van die bestaan van die owerste van die duisternis self. So word lig én duisternis gerelativeer om tot 'n grys gebied ineen te vloei - 'n skakering van duisternis waarin dit aan grondgebied wen.
Duisternis spoel tans golf na golf oor S.A., 'n gebeure waaromtrent vele in totale ontkenning leef. Hoeveel meer duisternis kan ons nóg hanteer voordat ons verstikkend daarin versmoor en uiteindelik geestelik sterf soos wat dié sterwensproses reeds in die VSA en Europa ver gevorder het? Laat ons nietemin steeds gelowend hoopvol bly dat eendag ook van S.A. gesê mag word: "Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien..." (Jes.9:1).