In sy artikel: "Identiteit nie 'n nasionale krisis" (DB,05.12), reageer Leopold Scholtz op beriggewing dat "die behoefte aan 'n enkele Suid-Afrikaanse identiteit" vanaf 73% in 2003 tot 55% in 2013 gedaal het (DB,04.12). Scholtz maak Nederland tot voorbeeld en sê: "'n Enkele nasionale identiteit bestaan beslis in Nederland. Maar dit sluit klaarblyklik nie die Moslems in nie...(by wie) 'n onwilligheid om te integreer, om die Nederlandse norme en waardes oor te neem, neiging tot misdadigheid, onverdraagsaamheid teenoor nie-Moslems..." bestaan. Volgens Scholtz bots laasgenoemde lynreg met die Nederlandse identiteit met sy "groot voorbehoude".
Dieselfde bedreiging van die nasionale identiteit manifesteer ook in Brittanje, Duitsland, Frankryk, België en Skandinawiese lande waar eise van instromende Moslems onrusbarend toeneem. Scholtz sê: "Oral reageer die mense op maniere wat herinner aan dié van die Afrikaners voor, in en ná die apartheidstyd." Wat 'n veelseggende en insiggewende gevolgtrekking van Scholtz. Is dit nie maar 'n universele reaksiewyse van volkere - met "groot voorbehoude" - om só te reageer teenoor vreemdelinge wanneer dié hul nasionale identiteit bedreig nie?
Verklaar die Afrikanervolk se bedreiging van sy eie volksidentiteit nie veel van die afsonderlike ontwikkelingsroete (kortweg apartheid genoem) wat hy noodgedwonge gevolg het juis ten einde sy identiteit te behou nie? Onder die huidige identiteitsvernietigende bedeling is hy beslis besig om sy vroeëre volksidentiteit te verloor. Is die diverse rasse-, etniese-, kultuur-, taal- en geloofsgroepe in SA nie elkeen ook besig om 'n onaanvaarbare verlies aan die eie unieke identiteit te ervaar, en daarom die 18% daling in die behoefte aan 'n enkele SA-identiteit? Die "nuwe SA-reënboognasie" lei, sonder twyfel, tot 'n identiteitsverlies.
Baie sinvolle stuk Tommie. Daar is 'n paar dinge wat staan tussen "ons" en die behoud van ons identiteit, waarvan die belangrikste aspekte is: leierloosheid en verdeeldheid.
ReplyDelete