Monday, 24 August 2015

Kerk nie te blameer vir dié krisisse nie

J.J. se SMS (DB,22.08): "Dr.Boesak, u is reg; daar is 'n krisis in die kerk...die kerk moet pa staan. Nêrens in die Bybel word apartheid voorgeskryf nie", het betrekking. Die kerk "pa staan" vir watter "krisis", ekstern of intern?

J.J. beklemtoon die driehoekige verwantskap van kerk (Liggaam van Christus/Goddelike instelling), Bybel (Woord van God) en apartheid (menslike instelling). Op grond van sy Gods- en Skrifbeskouing het die NG Kerk vroeër die kerk, Bybel en afsonderlike ontwikkeling versoenbaar gevind.

Kenners beweer daar het 'n radikale transformasie in Gods-, Skrifbeskouing en vertolking van die Bybelse opdrag   -  vanaf 'n bekeringsevangelie na 'n sosiale evangelie (sterk beïnvloed deur die Bevrydingsteologie)   -  plaasgevind. Voorts word beweer dat die Bybel tans gediskrediteer (vals vertolkings) en gekorrupteer (vervalste vertalings) word. Verder dat die Bybel nie onder leiding van die Heilige Gees geskryf is nie, maar geskryf deur mense as 'n soort kultuur-historiese produk. Op hierdie getransformeerde Gods-  en Skrifbeskouing   -   waarvolgens die Bybel grootliks aan gesag verloor het   -   word vandag 'n nuwe kerkpraktyk gebou.

Vir Boesak (DB,21.08) lê die krisis "in die stryd om geregtigheid, gelykheid en menswaardigheid" in sosiale konteks. Destyds het hulle hul aanbidding "uit die heiligdom (kerk) na die strate (sekulêr) gevat...die 'Kairos-oomblik' wat mense geïnspireer het"   -   inspirasie vanuit die nuwe Gods-  en Skrifbeskouing. Verder sê Boesak: "Ondanks destyds se krisisse dreig daar vandag 'n groter krisis as ooit tevore." Boesak is reg.

Armoedeverligting, geregtigheid, gelykheid en menswaardigheid van landsburgers is primêr die verantwoordelikheid van die staat; nie van die kerk nie. Die kerk het 'n eie opdrag ontvang. Die kerk kan nie blaam aanvaar vir buitekerklike krisisse nie. Die kerk beleef 'n interne krisis soos die vraag óf dit nog 'n ware kerk, óf reeds 'n valse kerk geword het waaromtrent artikel 29 van die NGB riglyne verskaf.




Sunday, 16 August 2015

Nothnagel, help asseblief met dié vrae

Onlangse kritiek op die samestelling van die Springbokspan het die jongste seisoen vir rassisme-beskuldigings ingelei. Son (11.08) rapporteer Cosatu wat verwys na "rassistiese" Meyer met sy "rassistiese spankeuses".

Ook Albert Nothnagel (DB,14.08) lug sy mening oor Afrikaners as rassiste deur sy voorkeurgewing aan die WAT-definisie, en die verwerping van die HAT-definisie, van die Afrikaner. Die WAT-definisie: "Afrikaner: rassisties en verouderd, wit Afrikaner". Die HAT-definisie: "Afrikaner s.nw. (veral wit) persoon (met 'n sterk gevoel van "nasietrots") wie se moeder-  of huistaal Afrikaans is. Afrikaner: -dom, -kind, -skap, -volk". (Volgens Nothnagel)

Nothnagel se voorkeur aan die WAT-definisie, en die implikasie daarvan vir homself as persoon, blyk van 'n ambivalente aard te wees. Ek verduidelik. Sy definisiekeuse maak een van twee moontlikhede op hom van toepassing. 1. Of hy beskou homself nie as 'n Afrikaner nie, en is derhalwe nie 'n rassis in terme van die WAT-definisie nie, of 2. hy sien homself as 'n Afrikaner en is daarom, volgens sy aanvaarde definisie, 'n selferkende rassis.

Met sy: "Mooi so, Broers!", prys Nothnagel die Afrikanerbond wat die WAT-definisie "vir R5 000 geborg het". Hieruit lei ek af dat, indien nie ook self " 'n Broer" nie, Nothnagel homself beslis identifiseer as 'n Afrikaner en so homself, per WAT-definisie, tot rassis verklaar. Die logiese gevolgtrekking hieruit impliseer dat al die lede van die definisieborgende Afrikanerbond dan ook rassiste moet wees.

Sal Nothnagel asseblief die volgende twee vrae beantwoord: Het hy hom vooraf vergewis van die legitimiteit van die WAT-definisie, dat dit nie op vooroordeel nie, maar wel op verifieerbare navorsingsbevindinge berus, en, beginnende by homself, wat gaan hy doen aangaande sy eie definisie-bepaalde selferkende rassisme?








Monday, 10 August 2015

Nostalgie oor 'n SA wat ek eens geken het

Na 'n vyfweeklange besoek aan ons kinders oorsee, vergesel 'n versameling van kaleisdoskopiese indrukke ons tuis, vermeng met 'n goeie skoot hunkering en heimweë. Wat is die episentrum van laasgenoemde: die gemis van verweg kinders, of die gemis aan 'n SA wat ek eens geken het, die onvermydelike vergelyking van die buiteland met die plaaslike beklemtonend daartoe?

Die SAA blyk reeds volledig getransformeer te wees met slegs swart lugwaardinne en, soortgelyk, die grondpersoneel daarvan. Tydens die vlug speel slegs Afrikamusiek met géén Afrikaans nie, behalwe "welkom" en "totsiens".

In 'n juwelierswinkel aan die San Marcoplein in Venesië hoor ek Afrikaanse stemme; later ook op 'n "vaporetto" (waterbus) op die hoofkanaal. My taal, my tuiste. In sig van die Pisatoring praat 'n gerehabiliteerde Roemeense dwelmverslaafde met ons in gebroke Afrikaans. In sy geboorteland word my taal verag.

Op 'n snikhete somerdag drink ek die koelste, skoon fonteinwater in die Colosseum   -   gratis! In my straat vloei kosbare water vrylik uit 'n waterlek; in 'n aangrensende straat op twee plekke. Is daar 'n waterbron in SA wat nog nie besoedel is nie?

By my tuiskoms is die nuusuitsending my eerste TV-blootstelling. Een oomblik nog sien ek oproerig rusiemakende parlementariërs; die volgende oomblik beurtkrag-duisternis. Ek word vinnig die SA-werklikheid binne geruk. Het beurtkrag nie simbolies van 'n uiters onsekere SA-toekoms geword nie?

Die doodsberig van 'n goeie vriend skok my; die derde vriend in kort tydsbestek. Hunkering en heimweë verdiep. My verweg kinders mag ek, DV, dalk weer onveranderd sien, maar die SA wat ek eens geken het?   -   die episentrum van my nostalgie.