Na 'n vyfweeklange besoek aan ons kinders oorsee, vergesel 'n versameling van kaleisdoskopiese indrukke ons tuis, vermeng met 'n goeie skoot hunkering en heimweë. Wat is die episentrum van laasgenoemde: die gemis van verweg kinders, of die gemis aan 'n SA wat ek eens geken het, die onvermydelike vergelyking van die buiteland met die plaaslike beklemtonend daartoe?
Die SAA blyk reeds volledig getransformeer te wees met slegs swart lugwaardinne en, soortgelyk, die grondpersoneel daarvan. Tydens die vlug speel slegs Afrikamusiek met géén Afrikaans nie, behalwe "welkom" en "totsiens".
In 'n juwelierswinkel aan die San Marcoplein in Venesië hoor ek Afrikaanse stemme; later ook op 'n "vaporetto" (waterbus) op die hoofkanaal. My taal, my tuiste. In sig van die Pisatoring praat 'n gerehabiliteerde Roemeense dwelmverslaafde met ons in gebroke Afrikaans. In sy geboorteland word my taal verag.
Op 'n snikhete somerdag drink ek die koelste, skoon fonteinwater in die Colosseum - gratis! In my straat vloei kosbare water vrylik uit 'n waterlek; in 'n aangrensende straat op twee plekke. Is daar 'n waterbron in SA wat nog nie besoedel is nie?
By my tuiskoms is die nuusuitsending my eerste TV-blootstelling. Een oomblik nog sien ek oproerig rusiemakende parlementariërs; die volgende oomblik beurtkrag-duisternis. Ek word vinnig die SA-werklikheid binne geruk. Het beurtkrag nie simbolies van 'n uiters onsekere SA-toekoms geword nie?
Die doodsberig van 'n goeie vriend skok my; die derde vriend in kort tydsbestek. Hunkering en heimweë verdiep. My verweg kinders mag ek, DV, dalk weer onveranderd sien, maar die SA wat ek eens geken het? - die episentrum van my nostalgie.
Tommie, jy verwoord baie goed wat ek self ondervind het! In 1994 is ons Israel toe. Wat 'n heerlike hartverwarmende gevoel het ek ervaar toe ons al laer en laer sirkel, en die bekende al meer sigbaar word. Daarna weer vier maal oorsee gewees (Engeland en Nederland), die laaste keer in Januarie vanjaar. En elke keer toenemend minder "bly" om terug te wees: die onbekende buiteland het soos die bekende begin voel, en ekself al meer en meer soos 'n "vreemdeling" in my eie land...
ReplyDelete