Thursday 23 July 2015

Buysraamwerk werp lig op ANC-sosialisme

In sy: "Die linkses se ideologie opgesom in 12 O's" (22.07), skets Flip Buys, voorsitter van Solidariteit, die ideologies-verwante dryfvere van die sosialistiese ANC op skitterende wyse.

(1)Ongelykheid, en nie armoede nie, is die kernprobleem vir sosialisme. Ongelykheid word deur privaatbesit (kapitalisme) meegebring, en dit is sonde. Ongelykheid is (2) 'n onreg; iemand anders se skuld, vandaar blaampolitiek. Die oplossing vir ongelykheid is (3) opstand van die werkersklas teen die besittersklas.

Marxisme is 'n (4) opposisie-ideologie, en nie ontwerp om te regeer nie. Deur transformasie vind (5) omverwerping van die bestaande orde plaas. Sosialisme (ANC) leef in (6) ontkenning en erken nie eie foute nie. Die "bevryders" (7) oorheers en onderdruk volgens die uitgangspunt van "joune is myne" wat, geïmplementeer, eindig in volslae armoede.

Die staat is die nasionale "lokomotief" en nie die sakewêreld nie. So (8) oorskat en oorlaai die sosialistiese (ANC) staat homself. Die oorsake en omvang van landsprobleme word (9) onderskat, en sosialistiese oplossings vir die omkering van die ou orde misluk. Ongelykheid word met (10) opheffing, deur welsyn en herverdeling, "opgelos", en nie deur ontwikkeling nie.

(11)Onder-  en herverdeling van die nasionale "koek" vind plaas. Dié "koek" word nie groter gemaak nie, en uiteindelik bly net krummels daarvan oor   -   "eerder bloei as groei". Die sosialistiese projek om "hemel op aarde te skep", eindig in die vernietigende (12)ondergang van al die bestaande, kulminerend in armoede en onderdrukking.

Buys se 12 O's bied 'n uitstekende raamwerk waarvolgens die ANC se sosialistiese nasionale transformasie, soos wat dit daagliks nuusdekking geniet, begryp kan word.




1 comment:

  1. Dankie vir die puik bondige samevatting van die sinvolle "12 O's" Tommie! As die regering dit maar wil lees en daarvolgens optree!

    ReplyDelete