Wednesday 8 July 2015

NG Kerk stuur op oorlewingskrisis af

Asof die kenmerkend stoomrollende transformasie van SA op haas alle lewensterreine, en nie sonder destabiliserende effek nie, die transformasiegesindes nie tevrede stel nie, moet ook die kerklike lewe in ooreenstemming met die nuwe SA getransformeer word.

Die gemiddelde Christenafrikaner sien nie graag toe dat sy kerk deur dieselfde sekulêr-humanistiese en rewolusionêr-liberale magte getransformeer word nie. Enige buite-bybelse voorskrifte vir kerkwees en -lidmaatskap, ongeag vanuit watter oord   -   wat die geborgenheid   van 'n waarheidsgetroue geloof kan versteur   -   is onaanvaarbaar.

Dit word hoe langer hoe duideliker dat die NG Kerkleierskap besig is om dié kerk te herposisioneer met deeglike oorweging van die grondwet en handves van menseregte. Dié kerklike leierskap se "inkoping" op die transformasiegedagte, in ruil vir die tradisioneel kerklike reformasiegedagte, het nie net tot lidmaatvervreemding gelei nie, maar neem ook krisisafmetings aan.

Uitsprake van teoloë, en algemeen sinodale besluite, stem NGK-lidmate tot groot onrus oor waarheen dié kerk onderweg is. Die Belharkrisis is skaars (tydelik) afgeweer, of die leierskap skep 'n nuwe krisis. Dit kom voor of opeenvolgende krisisskeppinge die strategie is waarvolgens die aanslag op dié kerk se finale transformasiekapitulasie gebaseer word.

In "Nelus Niemandt se pleidooi: 'Gooi NG Kerk oop vir gays' " (Beeld, 01.07), sê dié NGK-moderator: "My hoop is dat die lesbiese, gay, biseksuele (oriëntasie) genormaliseer sal word (binne die kerk)." Sy uitspraak is 'n eerbiediging van die grondwet en handves van menseregte, maar druis direk in teen die Nuwe Testamentiese uitspraak van Romeine 1:25-28;32. Met dié uitspraak, skep Niemandt die jongste krisis vir NGK-lidmate.

Met hierdie soort buite-bybelse kerklike leierskapsuitsprake, stuur die NG Kerk op 'n oorlewingskrisis af.              (ngn)








1 comment:

  1. Ek dink jy slaan die spyker op die kop Tommie. Soos met Belhar, is die leiers en veral Prof Niemandt, totaal uit voeling met die "gewone" lidmaat. By elke artikel rakende die kwessie en ook op sosiale media, is die reaksie oorweldigend TEEN wat prof Niemandt voorstel.

    ReplyDelete