Friday 17 July 2015

Hoe kan ek hierdie predikant respekteer?

Ek reageer op ds.Fourie Rossouw, van die NG-gemeente Weltevredenpark, Roodepoort, se standpunt oor gay huwelike   -   en sy doop van die dopeling van 'n vroulike doopegpaar   -   soos berig in Beeld (15.07) : "Doop van twee vroue se kind help genees".

Ek reageer kortliks op Rossouw se geverbaliseerde standpunt soos in Beeld berig. Van sy begeleiding van dié twee vroue, voorafgaande tot die doopbediening, sê hy die volgende: "Hier en daar het ek probeer om oor God as 'n moeder te praat, 'n vrou wat versorg, wat ons met water was soos 'n ma haar kind."

God as 'n moeder...'n vrou wat versorg...wat ons met water was? Waar kom dié dominee hieraan? Die Bybel leer baie duidelik dat Jesus telkens Sy vader as "Vader" aangespreek het. Hoe blatant moedswillig om te sê God het ons met water gewas terwyl die Woord duidelik sê dat ons in die bloed van God se Seun gewas is. Ds.Rossouw opereer met 'n totaal Bybelvreemde Godsbeskouing, uiters gevaarlik vir die toekomstige suiwer Woordverkondiging in die NG Kerk.

Voorts sê Rossouw: "...vandag wil ek graag noem dat al is sy baie van die tyd 'n beneukte ou tannie, is die kerk my moeder en dat sy eintlik 'n baie sagte hart het." Die kerk, as die Liggaam van Christus, 'n "beneukte ou tannie"? 

Is die grens tussen Godsverering en Godsontering reeds uitgewis vir hierdie dominee? Met sy duidelike gebrek aan respek vir die Godheid   -   en dit as geestelike leier   -   hoe kan daar van my, as gewone lidmaat, verwag word om respek vir hom en sy afwykende bediening te hê?            (ngn)




No comments:

Post a Comment