Sunday 12 February 2017

Enkele dimensies van Zuma-staatsrede

Die dimensies van snelheid, afstand en tyd is nie net beperk tot omgewings soos dié van Wiskunde en die Fisika nie, maar ook in sosiale omgewings, soos wat pres. Jacob Zuma in sy onlangse staatsrede ons ander maal van bewus gemaak het.

Die dinamika van dié drie samehangende dimensies, of 'n gebrek daaraan, word, onder meer, duidelik in die vervoerkonteks soos dié van land-, water-, lug-  en spoorvervoer. Het dié dinamika, of liewer die gebrek daaraan, nie ook gemanifesteer in die staatspresident se futloos oninspirerende voordrag tydens sy onlangse staatsrede nie?

Afstand rek óf krimp. Soos wat Zuma en die ANC die afstand laat krimp tussen hulself en totalitêre moondhede soos Rusland en China   -   ook Kuba en die Palestyne   -   so rek hul weer die afstand tussen hulself en die westerse demokrasieë, respek vir parlementêre orde en status, asook die steun van die burgerlike samelewing.

Die snelheid waarmee dié afstandkrimping na links en  -rekking na regs geskied, blyk in momentum toe te neem na gelang Zuma die einde van sy ampstermyn nader. Radikale ekonomiese transformasie en aksies betreffende die grondkwessie gaan veral versnel word.

Linkse afstandskrimping in die rigting van rewolusionêr-ideologiese bondgenote, en voorsiene versnelde ekonomiese-  en grondtransformasie, impliseer ook die derde dimensie, naamlik tyd. Met Afrikatyd in die gedagte, word dié dimensie in onsekerheid gehul tot nadeel van ons ekonomiese groei. Oor hoe die tydsdimensie wittes in die toekoms gaan raak, word oud-pres. F.W.de Klerk aangehaal dat hy sou gesê het: "...binne 50 tot 60 jaar kan...die verdrywing van die wit minderheid in Suid-Afrika" (DB,03.02) 'n werklikheid word.                       (ngn)








No comments:

Post a Comment