Dit is vandag Menseregtedag, en moeilik te oortuig dat waarheidpraat een van dié regte is. Hiervan is die Zille-debakel 'n sprekende voorbeeld (DB,17.03). Benewens die ANC en EFF eis ook swart DA-leiers haar kop sodat sy Julius Caesar sou kon nasê: "Et tu, Brute?"
Indien ons dan nie mag verwys na die vooruitgang en welvaart gekenmerk deur die koms van Europese koloniste na Suid-Afrika, en ook elders in Afrika nie, dan word ons gedwing om te vra: vanwaar dan dié dinge waarop Zille in haar twiet gewys het - vanuit Afrika self? Dié werklikheid is te pynlik selfs vir politiek korrekte lakeie soos Max du Preez (DB,21.03) om te erken.
'n Anti-wit sentiment, lank reeds met ons, is toenemend aan die opbou. Politiek korrektheid en gebrek aan MRK-optrede bevorder dié sentiment. Onlangs nog bid Esethu Ha-sane oor die droë Wes-Kaap: "Asseblief, Here, ons het swart mense daar, kies 'n ander manier om wit mense te straf" (DB,01.03), terwyl Duduzile Manana, ANC-LP, tydens die parlementêre debat oor plaasaanvalle en -moorde onbeskaaamd uitroep: "Bury them alive!", verwysende na wit boere. En dit is aanvaarbaar en vereis zero optrede?
Hierdie is die realiteite waarmee wittes gekonfronteer word: traagheid van optrede van die MRK in gevalle van haatspraak teen en moorde op wittes, terwyl indiwidue soos Max du Preez en die media se politiek korrekte ingesteldheid 'n klimaat skep waarbinne die anti-wit sentiment floreer.
Dit herinner my aan 'n spreekwoord van weleer: Die meule maal langsaam, maar die wiel sal weer draai.