Sunday 5 March 2017

Grondwetlike "waarborge" nié gewaarborg nie

Jeremia (7:4) wys oud-Israel op hul valse gerustheid wanneer hulle sê: "Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel." Ons doen vandag presies dieselfde wanneer ons sê: "Ons is veilig. Ons het die Grondwet en Handves van Regte, ons het die Grondwet en Handves van Regte."

Dit is die geïmpliseerd oorwoë mening van prof. Koos Malan van die UP se Regsfakulteit soos verwoord in sy voordrag getitel: "Die ongewaarborgde waarborge van die Suid-Afrikaanse Grondwet", gelewer tydens die TLU SA se jongste jaarkongres.

Malan sê: "...ofskoon vry algemeen na die grondwetlike regte as waarborge verwys word, dié regte inderdaad nie gewaarborg is nie." Ook die Grondwet is nie verskans nie. Hierdie wete is ontstellend. Hy sê ons moet ons nie hieromtrent laat mislei nie.  

Hy beweer die verwysing na "gewaarborgde regte" is bloot 'n vorm van algemeen aanvaarde bygeloof   -   'n "sekulêre godsdiens"   -   waarmee ons sedert 1994 geteister word.

Malan verduidelik soos volg: 1. Regte spreek nie vanself nie. Regte kry betekenis na gelang van hoe hulle vertolk en toegepas word. 2. Grondwetlike regte is deurtrek van fundamentele teenstrydighede wat aan vertolkers   -   soos geregshowe, staatsorgane en politieke maghebbers   -   groot beweegruimte verleen om na goeddunke te vertolk. 3. Die betekenisse van regte kan met verloop van tyd verander sodat vertolkers daarvan kan bereik wat húlle daarmee wil bereik. 4. Hou in gedagte dat die SA-Grondwet as 'n transformatiewe regsinstrument beskou word, gemik op 'n egalitaristiese samelewing, en nie die "status quo" nie   -   'n sterk dryfveer vir regtevertolking.

Volgens Malan is grondwetlike regte in groot omstredenheid gehul; kan ons nie daarop peil trek nie; waarborge (soos eiendomsreg) wat dit verskaf, is nie werklik waarborge nie, en die reg is nooit ideologies neutraal nie, maar word verdoesel in die regstaal. Laat ons dus nie langer valse sekuriteit probeer vind in "waarborge" wat geen waarborge is nie.                   (ngn)




No comments:

Post a Comment