In sy brief: "US:Uitnemendheid, nie maklikste" (DB,08.16), sê Pieter Hurter dat die huidige US-rektor, prof.Wim de Villiers, die "maklikste opsie...voorhou wanneer kernprobleme om 'n oplossing vra." Dié "maklikste opsie (sal)...die doodskoot vir Afrikaans by die US beteken (en)...dié doodloopstraat is vir almal duidelik...behalwe vir...prof. De Villiers."
Sonder enige poging tot 'n vergelyking van US-rektore, tel ek my seëninge dat ek aan die US kon studeer tydens die rektorskap (1954-1969) van wyle prof.H.B.Thom, 'n nou, miskende, verbygegane tydperk.
Volgens wyle prof. Bun Booyens was hy die seun van 'n Paarlse onderwyser wat met die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog (1899) hom in die Vrystaat bevind, by die Boeremagte aangesluit, aan verskeie veldslae deelgeneem het, en uiteindelik na Indië verban is.
Vanuit huis, kerk en skool was prof.Thom 'n ware Afrikaner wie se invloed en oortuigings die ganse universiteits- en studentegemeenskap sestien jaar lank deursuur het. Hy het gesê "dat die Universiteit van Stellenbosch uit die nood van die Afrikanervolk gebore is (en)...in 'n diepe behoefte van die volk voorsien het; omdat hy al vroeg 'n volksuniversiteit geword het...Baie het daarvan gehou, baie ook nie."
Die Thom-tydperk het 'n omgewing geskep waarbinne ek, vanweë 'n gemeenskaplike taal-, kultuur- en geloofsomgewing, my volkome tuis gevoel het. Op al drie gemelde terreine, en nog meer, het prof.Thom sy stempel landswyd afgedruk.
Van hom het wyle dr.S.J.Gericke gesê: "Ek noem hierdie groot Afrikaner ook 'n groot Kerkman..", terwyl D.J.Viljoen, destydse hoofsekretaris van die FAK, gesê het: " 'n Mens sou boekdele kon skryf oor die aandeel wat hierdie man aan die georganiseerde kultuurlewe van die Afrikaner gehad het...", waarvan sy ywer vir die Afrikaanse taal 'n kernfaset was.