Die Kerstyd maak ons besonder bewus van die bestaan van simbole. Die samelewing is 'n met simbole gevulde omgewing waaraan kinders, bewustelik of onbewustelik, blootgestel word. Dit is die taak van volwassenes, soos ouers, om kinders te help met simbool-identifisering, -onderskeiding, -betekeniswaarde en die doel en funksie daarvan.
'n Kritieke vraag aan veral Christenouers is of hul kinders - veral binne die simbole-kontekste van Kersfees en TV-kinderprogramme - die noodsaaklike leiding ontvang om ook tussen gewensde en ongewensde simbole te kan onderskei. Self is veral die kleiner fantaserende kind nie tot onderskeiding in staat nie, waardeur die kwesbaarheid van so 'n kind verhoog word.
Binne die konteks van Kerssimbole soos dié van Kersvader, -boom, takbokke met slee en kersgeskenke, het veral die jong kind beslis hulp nodig om tussen gemelde sekulêre simbole en Bybelfundeerde simbole soos dié van die baba in die krip, Bethlehemster en wyse manne te kan onderskei. Ons móét ons kinders/kleinkinders met hierdie noodsaaklike simbole-onderskeiding, en hul onderskeie betekeniswaarde, bystaan.
Binne die konteks van sommige TV-kinderprogramme vind ek dit skrikwekkend tot watter mate ons kinders blootgestel word aan die kwistige gebruik van simbole wat ek sonder enige twyfel as van 'n okkulties-diaboliese aard tipeer. Of ouers altyd hiervan bewus is, is 'n vraag van lewensbelang.
Diegene van ons wat ons kinders/kleinkinders liefhet en kosbaar, dog kwesbaar, ag, behoort 'n gevoeliger ingesteldheid aan die dag te lê vir die simbole waaraan kinders blootgestel word, en hulle veral te help met die gewensdheid of ongewensdheid van sodanige simbole. Sodoende kan ons help om potensieel permanente skadeberokkening aan die kind te beperk.
No comments:
Post a Comment