'n Eerste besoek aan ons diasporakinders - in die noordelike streek van die New Zealandse (NZ) suideiland - het alle verwagtinge oortref. Ons is aangenaam verras deur die panoramiese uitsigte op heuwel-, berg-, vallei- en seelandskappe.
Plantegroei is getooi in die allermooiste herfsskakerings van bruin, oranje, geel en rooi. Van Wyk Louw se: "Die jaar word ryp in goue akkerblare", geld universeel. Wat 'n geestesverkwikkende blootstelling in teenstelling met ons onseker sombere daaglikse SA-bestaan.
In die land van die lang wit wolk, silwervaring en skugter kiwi, word ook die legende van Pelorus Jack (PJ) - 'n groot wit dolfyn - vertel. As Maorilegende sluit ook die westerse kultuur daarby aan.
Die see speel 'n kernrol in die mitologiese Maorikultuur. Daaruit het alle lewe, ook die mens en eilande (wat voorheen visse was), voortgekom. Seediere, soos PJ, het hul voorvaders vanaf Polenesië hierheen begelei.
Deur fotografering en dokumentering is die bestaan van PJ wel bevestig. Gedurende 1888 tot 1912 het PJ skepe vanaf Wellington (noordeiland) na Nelson (suideiland) vergesel en gevare op die seeroete "uitgewys".
Waar die skilderagtige Frenchbergpas eindig by een van die talle see-inhamme is daar 'n gegote afbeelding van PJ vergesel van 'n kort beskrywing van dié legendariese dolfyn.
Legendes het my nog altyd gefassineer, waarvan sommige egter soms met 'n knippie sout geneem moet word.
Groete vanuit natuurskone NZ waar SA-jongmense se kennis en vaardighede erken en konstruktief benut word; 'n jammerlike bateverlies vir ons eie eens welvarende nasionale ekonomie - self ook eersdaags 'n legende?
No comments:
Post a Comment