Tuesday, 28 January 2020

Sien die ANC minderheidskulture as 'n nasionale bate?




Ons veelkulturige samelewing word deur sommige gesien as 'n besondere nasionale bate, maar sien die ANC minderheidskulture as deel van dié "bate"? Met kultuur gesien in die omvangrykste sin van die woord, mag ons vra of ons nasionale kultuurkurwe tans op- of afwaarts beweeg?

Oorblyfsels van die eens Europees-georiënteerde samelewingskultuur stort sedert 1994 in duie, waaronder ook  -  soms deur eie toedoen  -  Afrikanereie kultuurstrukture, terwyl die dominante Afrikakultuur koers- en toekomsbepalend geword het, twee hoofkulture wat in vele opsigte radikaal van mekaar verskil.

Ontwikkelingsverskille tussen die diverse kultuurgemeenskappe is feitelik aanwysbaar. Dit word selfs weerspieël in beskuldigings dat "ander" vir hul "agtergeblewendheid" verantwoordelik is, terwyl diesulkes eintlik kultuuragterstandiges is.

Kulturele skouerskuur oor 360 jaar het nie gelei tot kultuurpariteit nie. Die volgehoue wanbalans tussen diverse kultuurgemeenskappe se siening ten opsigte van geboorte-aanwas en belastingbydraes tot die staatskas, as voorbeeld van verskil, is onvolhoubaar en stort ons almal in 'n kultuurmoeras.

ANC-regeerkultuur is een van aanmatigende selfverheffing bo die parlementêr grondwetlike demokrasie (kultuurvreemde instelling?), gekenmerk deur 'n kultuur van nepotisme, selfverrykende eiebelang, toesmering van korrupsie en leë beloftes, alles primêr ingestel op ANC-partybelange en nié die  Suid-Afrikaanse burgery nie.

Die nasionale diienslewerings- en produktiwiteitskultuur weerspieël die Afrikakultuurmatrys, en dit kan nie langer die ANC se pleisterplakkende oorlewingskultuur van "reddingsboeie" teen volslae verval en agteruitgang beskerm nie.

Ons veelkulturigheid kwalifiseer as nasionale bate slegs indien ruimte en vryheid aan elke kultuurgemeenskap gegun word tot volledige potensiaalontwikkeling waarby ook die ander -gemeenskappe kan baat, en nié deur onderdrukking deur die kultuur van die massas nie.





Tuesday, 14 January 2020

Sepie dien as transformasieagent




'n Vriend se 13-jarige kleindogter vra haar ouers waarom aan wit kultuurgenootlike Afrikaanssprekendes sulke "slegte" akteurs- en karakterrolle in die 7de Laan-sepie toegeken word.

Met meer beskikbare tyd gedurende die afgelope skoolvakansie kon sy en haar maats meer dikwels na TV-programme kyk. So het 7de Laan 'n gespreksonderwerp tussen hulle geword. 

Ter toeligting van haar en haar maats se antwoordsoeke, rits sy voorbeelde af soos die volgende: Marianne dien tronkstraf uit vir moord. Sy wou ook vir Lesedi blind maak. Emma is pas uit die tronk, ook weens moord. Vir 'n misdaad van Chris Welman moes Jacob, onskuldig, tronkstraf uitdien. Esti was 'n ontkleedanseres. Deur Thomas beland verlamde Rikus in 'n rolstoel. HIV-positiewe Diederick skei van sy vrou. Tsjattas en sy ma bly in 'n plakkershut. Alexa en Gabbi deel sowel 'n woonstel as slaapkamers met mansvriende. Drankgebruik kom dikwels voor.

Weinig van hierdie wit Afrikaanssprekende kultuurgenote dien as rolmodelle met wie tieners kan identifiseer. Tieners is nie ongevoelig vir die verskil in rolle wat aan akteurs, komende vanuit verskillende kultuuragtergronde, toegeken word nie. Dié verskille is darem net té ooglopend. 

Die antwoordsoeke by die ouers op haar waaromvraag, weerspieël onryp tieners se onvermoë tot verbandsienende insig tussen die heersende ANC-beleid oor transformasie  -  ook maatskaplik  -  waarvoor die SABC se TV-kanale as "His Master's Voice" ingespan word.  In pas met die regering se ideologies geïdealiseerde samelewingsbeeld moet, daarom, ook die huidige openbare beeld van wit Afrikaanssprekendes subtiel daarvolgens getransformeer word.