Ons veelkulturige samelewing word deur sommige gesien as 'n besondere nasionale bate, maar sien die ANC minderheidskulture as deel van dié "bate"? Met kultuur gesien in die omvangrykste sin van die woord, mag ons vra of ons nasionale kultuurkurwe tans op- of afwaarts beweeg?
Oorblyfsels van die eens Europees-georiënteerde samelewingskultuur stort sedert 1994 in duie, waaronder ook - soms deur eie toedoen - Afrikanereie kultuurstrukture, terwyl die dominante Afrikakultuur koers- en toekomsbepalend geword het, twee hoofkulture wat in vele opsigte radikaal van mekaar verskil.
Ontwikkelingsverskille tussen die diverse kultuurgemeenskappe is feitelik aanwysbaar. Dit word selfs weerspieël in beskuldigings dat "ander" vir hul "agtergeblewendheid" verantwoordelik is, terwyl diesulkes eintlik kultuuragterstandiges is.
Kulturele skouerskuur oor 360 jaar het nie gelei tot kultuurpariteit nie. Die volgehoue wanbalans tussen diverse kultuurgemeenskappe se siening ten opsigte van geboorte-aanwas en belastingbydraes tot die staatskas, as voorbeeld van verskil, is onvolhoubaar en stort ons almal in 'n kultuurmoeras.
ANC-regeerkultuur is een van aanmatigende selfverheffing bo die parlementêr grondwetlike demokrasie (kultuurvreemde instelling?), gekenmerk deur 'n kultuur van nepotisme, selfverrykende eiebelang, toesmering van korrupsie en leë beloftes, alles primêr ingestel op ANC-partybelange en nié die Suid-Afrikaanse burgery nie.
Die nasionale diienslewerings- en produktiwiteitskultuur weerspieël die Afrikakultuurmatrys, en dit kan nie langer die ANC se pleisterplakkende oorlewingskultuur van "reddingsboeie" teen volslae verval en agteruitgang beskerm nie.
Ons veelkulturigheid kwalifiseer as nasionale bate slegs indien ruimte en vryheid aan elke kultuurgemeenskap gegun word tot volledige potensiaalontwikkeling waarby ook die ander -gemeenskappe kan baat, en nié deur onderdrukking deur die kultuur van die massas nie.
No comments:
Post a Comment