Wednesday, 24 June 2020

Kan ons by Frankl oor inperking leer?


Was daar ooit tevore 'n periode van globale menslike inperking op dieselfde skaal soos deur Covid-19 teweeggebring? Histories kom inperkings wel in verskillende kontekste voor, soos voorbeeldgewys, tydens siekte-epidemies, asook militêre beleërings en/of konsentrasiekampe tydens oorloë.

'n Beleërde stad in Ou Testamentiese tyd is inperkend verhonger sodat inwoners tot kannibalisme gedryf is (2 Konings 6:28-29). Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het die Boere Mafikeng en Kimberley aan die wesfront, en Ladysmith aan die oosfront, beleër, en het self 26 000 plus sterfteverliese in die Britse konsentrasiekampe gely.

Een van die mees aangrypende ervaringsgebaseerde verhale van Joodse inperkingslewe in Duitse konsentrasiekampe tydens Wêreldoorlog 2, is dié van Viktor Frankl soos meegedeel in sy boek Man's Search For Meaning.

Hoewel nie naastenby vergelykbaar nie, deel ons in sommige van dié Joodse ingeperktes se ervarings soos dié van vryheidsverlies, angsbelewing, doodsvrees, voedselskaarste, onsekerheid, familieskeiding en selfs selfdoodgedagtes.

Inperking werk sterk in op die mens se psigiese lewe, Frankl se spesialisgebied. Deur sy selfopgelegde stryd om die behoud van 'n positiewe geestesgesteldheid, het hy oorleef. Sy bekende To live is to suffer, and to survive is to find meaning in the suffering, dui daarop dat hy in alle omstandighede na 'n sinvolle bestaansbelewenis gestreef het.

Gevoed deur 'n diepgesetelde geloofsbasis het Frankl met 'n positief sinsoekende ingesteldheid die onmenslike konsentrasiekamptoestande oorleef.

Beskik ons ook oor dieselfde ingesteldheid om hom dit na te doen gegewe die Covid-19-pandemie, sowel as die oorkoming van die ekonomiese skadeberokkening veroorsaak deur die ANC-leierskap se gebrekkige hantering daarvan?






Wednesday, 10 June 2020

Afleidings uit reaksie op Floyd-voorval




Ek laat my nie uit oor die reg/verkeerd of skuldig/onskuldig aspek van die George Floyd-voorval nie, maar kom slegs tot enkele gevolgtrekkinge omtrent die reaksie daaropvolgend.

Dit was ongetwyfeld 'n emosioneel hoogs gelaaide rasse-insident. Die alledaagse praktyk het reeds voldoende bewys dat wit op wit, swart op swart en swart op wit geweld weinig propagandawaarde het, dog wit op swart het wel, en dit is geen geheim nie, ook nie in Suid-Afrika nie.

Dit blyk dat lewens (pragmaties) saakmaak  -  "Black lives matter"  -  wanneer 'n insident propagandawaarde het soos in die George Floyd-geval. Ter plaatse het Collins Khosa se dood aan die hand van weermaglede géén nasionale reaksie ontlok nie. Reaksie op lewensverlies tydens stamgevegte of in inisiasieskole wek ook nie die indruk dat lewens daar ernstig saak maak nie.

Is hierdie duidelike dubbele standaarde en inkonsekwentheid, oor wanneer lewens saak maak en wanneer nie, nie huigelagtig en oneerlik nie? Deur propaganda gedrewe, word 'n samelewing gedestabiliseer en, deur vandalisering, geweldige skade berokken. Is dit dan nie 'n vorm van berekende sabotasie, strafbaar voor die gereg, nie?

Verder sou onderliggend verborge bymotiewe identifiseer kon word, soos die beïnvloeding van die komende VSA-presidentsverkiesing. Ook spat dié reaksie soos 'n vonk oor na ander internasionale gemeenskappe om hulle te destabiliseer ter bevordering van wêreldwye solidêre raspolariserende protesaksies , ingestel op die verwesenliking van langtermyn ideologiese doelstellings.



Wednesday, 3 June 2020

Beskerm welwillendheid as nasionale bate




Welwillende medemenslikheid, voortspruitend uit spontane altruïsme om om te gee ook vir die welsyn van ons medemens, weerspieël ons burgerlike plig tot  sosiale verantwoordelikheid.

Nasionale eenheid gedy in 'n klimaat van welwillendheid. In 'n multikulturele samelewing dien dit as barometer vir intergroep verhoudinge. Hieruit volg die vraag: hoe sien welwillendheid daaruit in Suid-Afrika?

Vroeë tekens van welwillendheid was spoedig merkbaar met die aanvang van die Covid-19 inperkingstyd. Weldra, egter, sou duistere bedoelinge in dié welwillendheidsvoetspoor volg, en so die kwesbaarheid daarvan ontbloot.

Met ANC-beeldbou voorop gestel, en bewus daarvan dat welwillendes die honger, werkloosheid en armoede spontaan te hulp sou snel, probeer die ANC vir eie gewin om alle welwillendheidshulp sentraliserend na homself te kanaliseer.

Rasdiskriminerende, -gebaseerde en -polariserende kriteria vir staatshulp  -  komende vanuit die beursies van alle belastingbetalers  -  is nog 'n voorbeeld van die minagting van welwillendheid.

Die onlangse moord op Patricia Orpen van Cradock, beskryf as " 'n steunpilaar in die gemeenskap wat nooit geskroom het om ander te help nie" (DB 08.05), verteenwoordig 'n dodelike aanval op welwillendheid.

In multikulturele Suid-Afrika is welwillendheid oor kultuurgrense heen van besondere belang vir nasionale saambestaan. Ons het reeds ervaar dat welwillendheid, gegenereer uit wêreldbekeroorwinnings, weer net so vinnig verdwyn as wat dit verskyn het.. So, wat kan ons te wagte wees indien welwillendheidshulp uitgeput sou raak?

Interkulturele welwillendheid is 'n nie-materiële nasionale bate wat die beskerming van ons almal verdien. Ons mag nie, siender oë, ook welwillendheid aan korrupsie en/of rassisme uitlewer nie.