Wednesday, 3 June 2020

Beskerm welwillendheid as nasionale bate




Welwillende medemenslikheid, voortspruitend uit spontane altruïsme om om te gee ook vir die welsyn van ons medemens, weerspieël ons burgerlike plig tot  sosiale verantwoordelikheid.

Nasionale eenheid gedy in 'n klimaat van welwillendheid. In 'n multikulturele samelewing dien dit as barometer vir intergroep verhoudinge. Hieruit volg die vraag: hoe sien welwillendheid daaruit in Suid-Afrika?

Vroeë tekens van welwillendheid was spoedig merkbaar met die aanvang van die Covid-19 inperkingstyd. Weldra, egter, sou duistere bedoelinge in dié welwillendheidsvoetspoor volg, en so die kwesbaarheid daarvan ontbloot.

Met ANC-beeldbou voorop gestel, en bewus daarvan dat welwillendes die honger, werkloosheid en armoede spontaan te hulp sou snel, probeer die ANC vir eie gewin om alle welwillendheidshulp sentraliserend na homself te kanaliseer.

Rasdiskriminerende, -gebaseerde en -polariserende kriteria vir staatshulp  -  komende vanuit die beursies van alle belastingbetalers  -  is nog 'n voorbeeld van die minagting van welwillendheid.

Die onlangse moord op Patricia Orpen van Cradock, beskryf as " 'n steunpilaar in die gemeenskap wat nooit geskroom het om ander te help nie" (DB 08.05), verteenwoordig 'n dodelike aanval op welwillendheid.

In multikulturele Suid-Afrika is welwillendheid oor kultuurgrense heen van besondere belang vir nasionale saambestaan. Ons het reeds ervaar dat welwillendheid, gegenereer uit wêreldbekeroorwinnings, weer net so vinnig verdwyn as wat dit verskyn het.. So, wat kan ons te wagte wees indien welwillendheidshulp uitgeput sou raak?

Interkulturele welwillendheid is 'n nie-materiële nasionale bate wat die beskerming van ons almal verdien. Ons mag nie, siender oë, ook welwillendheid aan korrupsie en/of rassisme uitlewer nie.



No comments:

Post a Comment