Tronkvoël se skrywe (08.09) bly my by soos weinig ander skrywes. Daarin skets die skrywer op openhartig eerlike wyse sy/haar empatiewekkend heersende psigiese gemoedstoestand, toepaslik op vele ander, veral bejaardes.
Tronkvoël beskryf sigself as 'n "depressielyer...jaloers op elkeen wat doodgaan...Elke dag is 'n stryd...Jy bedink maniere van selfdood...soek die heeltyd uitkomplek...jy bid vir 'n wonderwerk."
Die kontekstueel presiese omstandighede word nie uitgespel nie; is ook nie nodig nie. Dit verskil van mens tot mens. Ek lees geen selfbejammering daarin nie, maar 'n hunkering om ontvlugting vanuit defaitisties onhoudbare bestaansomstandighede.
Die ongeëwenaarde verval en agteruitgang van Suid-Afrika, volgehou oor 'n lang tydperk - gereeld goed toegelig deur bekwame briefskrywers - het gelei tot traumatiese verandering wat psigies moeilik verwerkbaar is. Veral senior burgers beleef 'n toenemende verlies aan ou seker- en vastighede.
Dr Dirk Hermann verwoord die neerdrukkend uitsiglose en morbiedwekkende tydsgees raak wanneer hy sê: "Ek is keelvol vir die rasmalheid van hierdie land. Die oneerlikheid van die samelewing word nou te veel...geboelie deur die staat vanweë my ras...(waaromtrent) ek ewig in die skuld is...(want) vir alles is daar 'n rassewet."
Voorafgaande toestande soos deur Hermann beskryf, lei tot die verval in toestande soos dié waarin Tronkvoël sigself bevind. Anti-depressante middels verkoop vandag waarskynlik soos in geen ander vooraf tyd nie.
Tronkvoël se opmerking: "jy bid vir 'n wonderwerk", blyk die aangewese roete te wees ten einde te ontsnap aan sielkundige teistering as faset van die strategies gevoerde ANC-revolusie.