Verandering impliseer aanpassing, voor- of nadelig vir ons. Onnatuurlike, nie-spontane, gedwonge verandering vereis gedwonge aanpassing gepaardgaande met gedwonge prysgawe; tans 'n tipies nasionale simptoom van die ANC-transformasiesindroom.
Ideologiese ANC-transformasievoorskrifte (gedwonge verandering) vervang meriete met middelmatigheid, kundigheid met onbekwaamheid, instandhouding met verwaarlosing, funksionele met nie-funksionele staats- en munisipale dienste, die strewe na rasseharmonie met -polarisasie, bestaansveiligheid na -onsekerheid - 'n haas onuitputlike lys - waartoe ons tot aanpassing gedwing word met prysgawe van ons grondwetlike regte.
Aanpassing by die gedwonge ANC-eentalige bedeling gaan, in talle nasionale kontekste, met prysgawe van Afrikaans gepaard. Toenemende dwang word uitgeoefen op die aanpassing by koelbloedige moorde, bendegeweld, vandalisering van duur infrastruktuur, ophoping van straatvullis en -rommel, siekteriskante waterbronne besoedel deur vryvloeiende rioolafval met prysgawe van sindelikheid en higiëne, inderdaad 'n onuitputlike lys.
Die waarskynlik heel grootste prysgawe, wat gedwonge aanpassing van ouers noodsaak, is die selfopgelegde ballingskap van hul kinders na die buiteland ter wille van beter toekomsvooruitsigte vir ons kleinkinders wat gelyke geleenthede in ons land ontsê word. Die naderende Kersgety, ook as gesins- en familiefees, maak dié gedwonge aanpassing met prysgawe van saamwees, soveel moeiliker.
Te midde van dié negatief neigende ANC-transformasiedwang, is een van ons grootste uitdagings die behoud van ons positiewe geestes- en gemoedsgesteldheid; veral dit wat ons vanuit huis in ons jeugjare geleer is om ons staande te help hou.