Wednesday, 20 January 2021

Kompromie 'n dolksteek in kerklike hart




Verdeeldheid oor Bybelse uitsprake oor die gaykwessie word deur die kerkleiding aanvaar, wat dan besluit "dat elke gemeente na goeddunke moet handel" ( Joubert 06.01). Handeling na menslike goeddunke, en nie volgens die Bybel nie, dui op bedrieglike kompromiemaking aan kerklike kant.

Verdeeldheid in kerklike geledere aanvaar? Watter tipe spiritualiteit sit agter 'n verdeelde kerk? Is dit nie die kompromiemakende verderflikheidsgees wat hom beywer vir die vernietiging van die Liggaam van Christus nie?

Joubert pleit vir 'n "vredestyding", asook dat dié "wat so skeuring maak in die NG Kerk...tog asseblief weer moet dink." Vrede, rustende op kompromie, is 'n misleidend tydelike en valse vrede. Sy oproep om "weer te dink"   -  om  alleen die rasioneel, intellektuele verstandsdenke te gebruik op wat 'n bowerasionele (geloofs-) terrein is  -  is ewe misleidend.

Matthys Strydom (19.01) sê ek "ignoreer Joubert se vredesversoek". Natuurlik, want Joubert se vrede is vals omdat dit op kompromie berus.

Strydom beweer ook: "Die ongemaklike waarheid is egter dat die meerderheid van lesers tyd in albei kampe (meganies en organies) deurbring" (juis die gevolg van kompromie). Regtig? Ek, vir een, beleef dit nie so nie. Kan Strydom dié meerderheidsaanspraak toelig? Sy "ongemaklike waarheid", resultaat van kompromie, is 'n dolksteek in die hart van die Kerk.

Strydom vervolg met: "liefde en vrede...in die Bybel aan(ge)tref", verskyn "nie in Breitenbach se brief nie". Indien onderskei tussen ware (Bybelse) en valse (mensbeoordeelde) liefde en vrede, skaar ek my, tereg, nie by Strydom en Joubert se persepsie van dié twee begrippe nie.

Die kerkleiding, Joubert en Strydom se sieninge vertoon duidelike kenmerke van Kerkvernietigende kompromiepogings tot die versoening van onversoenbares.






No comments:

Post a Comment