Prof PW van der Walt se skrywe (10.04) het betrekking. Met "akademiese betrokkenheid" as skeidslyn tussen US-dosente en taalkritici van buite, etiketteer hy laasgenoemdes as "beste stuurman staan aan wal" - wat "onrealistiese verwagtinge koester" - 'n manier om te sê: ons weet; julle nie?
Kan die terugvoer van "bykans 200 studente...(oor) 'n paar modules", waarvan taal slegs 'n onderdeel van dié vraelys uitmaak, as statisties verteenwoordigend van die US-studentegemeenskap se taalmenings beskou word? Beslis nie. Ons weet ook dat statistiek tot voorafbepaalde uitkomstes gemanipuleer kan word.
Aanvullend hiertoe die volgende: ons weet Afrikaanssprekendes tree as "taaljintelmans" maar te gewillig akkommoderend op in gesprekke met Engelssprekendes deur na Engels oor te slaan. Hierdie bereidheid tot tegemoetkoming van nie-Afrikaanssprekendes leen sigself tot uitbuiting van Afrikaans. Dié kwaadwillige uitbuiting is selfs moontlik in tersiêre konteks.
Die taalpsige van die Afrikaanssprekende, een van toegeeflike inskiklikheid - nie by Engelssprekendes te vinde nie - vererger die kwesbaarheid van moedertaalsprekers van Afrikaans. Huiwerig om openlik voorkeur vir Afrikaans te toon, bestaan die wesenlike gevaar dat taalteenkanting tot persoonlike benadeling mag lei. Aandrang op moedertaalonderrig is dus riskant.
Opleiding uitsluitlik in Engels van veral onderwysstudente maak dit, vooraf meewerkend ter voorbereiding, net soveel makliker vir 'n ANC-beheerde skoolstelsel wat in die toekoms kan besluit op die volslae verengelsing van alle laer- en hoërskole tot 'n enkele eentalige onderwysbedeling.
Moenie die taalkritici van die US-taalbeleid - "beste stuurmanne" - sodanig onderskat om te wil dink hulle is totaal oningelig nie.
No comments:
Post a Comment