Onlangse berigte en skrywes oor dolerende NG-gemeentes dui ondubbelsinnig op die aanwesigheid van twee botsende sienings van die Bybel in dié kerk. Nuwe vertalings en interpretasies daarvan, sedert 1933 en 1952 veral, het tot groot verdeeldheid gelei. Dolering is 'n simptoom van 'n kerklike krisis rondom die Bybel.
Twee Bybelse vakwetenskaplike gemeenskappe - teologiese paradigmas - is onderskeibaar. Vir die een is die Bybel die geïnspireerde Woord van God, geskryf onder die leiding van die Heilige Gees en selfgenoegsaam sodat die Skrif deur die Skrif self verklaar kan word. Vir die ander is die Bybel bloot mensewoorde oor God - 'n feilbare historiese verhaal - en verklaar aan die hand van die evolusieteorie.
Oor jare heen al word Bybelse waarhede geïnfiltreer deur evolusie georiënteerde oortuigings in die NG kerk en, in 'n "nuwe verstaan" daarvan, tot mites gereduseer. In 2011 sê prof. Willie Esterhuyse, teoloog en filosoof, dat God self "deur sy eie proses van evolusie gaan...(en) geen geloof kan sonder die wetenskap oorleef nie" (By 22.01.11). Wat 'n aanspraak.
Enkele kenmerke van botsende (ook teologiese) paradigmas is dat hulle mekaar wedersyds uitsluit, onversoenbaar van mekaar verskil, 'n konseptuele transformasie vind plaas, 'n nuwe stel verbintenisse word aanvaar, veranderde siening van die ondersoekterrein (Bybel) vind plaas met onderlinge kommunikasieprobleme.
In wetenskapsfilosofiese terme bevind die NG Kerk sigself tans in 'n krisis, uiteindelik gevolg deur 'n wetenskaplike revolusie waardeur een van die kompeterende teologiese paradigmas verwerp sal word. Met die oog op minimalisering van kerklike skade, asook waarheidsbehoud, word dit 'n oorweging om betyds paaie te skei soos in die verlede, ook tydens 'n kerklike krisis, tussen Protestante en Katolieke.
(ngn)