Saturday, 30 November 2002

Sterf 'vir' en nie 'in' Afrikaans

In 'n gesprek oor Afrikaans met 'n bruin Afrikaanssprekende kollega merk hy op dat hy "in", maar nie "vir" dié taal sal sterf nie. Dié gesigspunt ontleen hy aan 'n vroeëre uitspraak van prof. Jakes Gerwel.

Dié stelling verteenwoordig 'n tweeledig kategoriale indeling van Afrikaanstaliges: dié wat "in" en dié wat "vir" Afrikaans sal sterf.

Hoewel wyd vertolkbaar, sou sterf  "in" Afrikaans kon beteken die bloot passiewe, doeldienlike gebruik daarvan. Daarteenoor sou sterf  "vir" Afrikaans, eweneens wyd interpreteerbaar, kon beteken om beskermend standpunt in te neem, die taal te verdedig en dit aktief te bevorder.

En nou die slagystervraag: Kan 'n mens in alle billikheid van die nasate van Afrika-mense   -   baie vir wie Afrikaans in die loop van die geskiedenis 'n plaasvervangende eerste taal geword het op grond van die historiese verlies van die eie taal   -   verwag om lojaal te wees teenoor 'n taal waarvan die boustene oorwegend Europees van oorsprong is?

Die betrokke kollega beoordeel dié denkslagyster dat die meeste bruin mense waarskynlik net "in" Afrikaans sal sterf, as 'n ontoelaatbare veralgemening. Hy is daarvan oortuig dat daar baie bruin mense is wat "vir" Afrikaans sal sterf. Só, verseker ek hom, is daar ook talle blankes wat slegs "in" Afrikaans sal sterf.

Die voortbestaan van Afrikaans sal nie verseker word slegs deur 'n gewilligheid om "in" die taal te sterf nie, maar ook deur 'n bereidheid om "vir" die taal te sterf.

Dit is nou die tyd dat alle Afrikaanstaliges, ongeag velkleur, bereid moet wees om ook "vir" hul taal te sterf. Steek daarom die hand in eie taalboesem en verkry so uitsig oor ons meertalige taallandskap, insig in ons eie taaltoekoms en probeer bepaal hoe ver ons taalhorison nog die toekoms in strek.

Monday, 18 November 2002

Maak taal los van politiek

In haar brief beweer Annemarie Esterhuyse (DB,07.11.2002) dat "...die taalstryders met hul stryd begin het sonder om eers vennote onder swart en bruin Afrikaanses te kry", en wys dan op nie-rassigheid en inklusiwiteit as voorwaardes vir 'n "taalbeweging" (wat nie noodwendig sinoniem is aan 'n taalstryd nie).

Wat is die instinktiewe ding om te doen as my taalhuis brand? Swerf ek brandriskant in die taalbuurt rond op soek na brandblusservennote, of probeer ek met die hulp van my onmiddellike taalbure die vuur blus?

Sy sê voorts dat jy sonder goeie politieke voetwerk nie ver kan kom nie. Hiermee is die denk-aap uit die mou: Taal en politiek is vir haar nie te skei nie. Watter tipe agenda stel taal ondergeskik en dienstig aan politiek?

Sy eindig met die stelling: "Daar sal eers met die toekoms van die taal gevorder kan word as bruin leiers...hul stemme laat hoor." (Let wel: Hier het die swart vennoot nou meteens verdwyn!) Wat 'n onverdiend venynige skop onder my blanke taalsitvlak.

Geen regsinnige blanke Afrikaanstalige ontken die aandeel van bruin mense aan die taalverlede nie; waarom dan die aandeel van blankes aan die taaltoekoms misken? Dit is 'n bloudruk vir kleurpolarisasie rondom Afrikaans.

Esterhuyse moet sê of bruin en swart Afrikaanssprekendes vir haar kultureel raakvlakkige taalgenote, of politieke taalvennote is. Haar brief lyk na 'n geval van polities geïnspireerde flirtasie oor die kleurgrens heen. Mense is nie so naïef om nie die politieke onderrok onder die taalrok te sien uitsteek nie.

Moenie die taalstryd met 'n politieke motief dryf nie. Dryf dit met 'n taalmotief in eie reg. Politiek verdeel; taal bring taalgenote in 'n taalwoning byeen. Met politiserende taalvriende het Afrikaans nie taalvyande nodig om dié taalwoning skade te berokken nie.

Friday, 8 November 2002

Taalmuit-brief is wenner

Dr. T.C. Breitenbach van Port Elizabeth se brief oor taalmuitery is die wenbrief van die week. Hy wen 'n R200-koopbewys van Pick 'n Pay se afslagwinkels, familie-supermarkte en mini-supermarkte.

Brieweblad

Monday, 4 November 2002

Stop taalmuitery oor Afrikaans

Sedert die vreemde Britse taalvloot sy verskyning in die taalvaarwater van Afrika gemaak het, bevind die inheemse Afrikaanse taalskip hom in gevaarvolle taaldeinings. In die verre verlede, soos ook nou, het onstuimige, taalimperialisties aanrollende golwe die taalsee hier tot 'n malende kolk omskep waarop die inheemse taalskepe sedertdien gevaarlik wieg en kantel.

Afrikaanssprekendes behoort hulle op die hoogte te stel van die taalstryd van vroeëre geslagte ten einde die Afrikaanse taalskip met sy kosbare vrag vlot te hou.

Daar mag nie, vanweë taalhistoriese onkunde, gewag word dat dié taalskat aan boord eers prysgegee word voordat ontdek word watter unieke juweel aan ons toevertrou is nie. 

Die onrusbarende van die Afrikaanse taalskip is egter aanvoelbare tweespalt onder die bemanning in die erge vorm van taalmuitery. Taalmatrose span die seile in teenoorgestelde rigtings. Deur onderlinge taaltwis en eie toedoen kan die taalskip, sonder om aangeval te word deur 'n taalrowerskip, 'n rampspoedige koers inslaan.

Het ons ons taalkaart en taalkompas in vreemde herberge se taalbordele verlê? Waar is die dissiplinerende gesagsleiding van die taaladmiraals dan? Flankeer hulle dalk op vreemde taalskepe, of is hulle verlammend vasgevang in die vergiftigende taaltransformasieweb?

As die teenswoordige taalmuitery nie beëindig word nie, loop die Afrikaanse taalskip nog groter gevaar om, soos die legendariese Vlieënde Hollander, as moderne Titanic in die ysig-Afrikaansonvriendelike water van ons nasionale talesee te verdrink.

Brief oor US-taalstryd wen R200

Monday, 21 October 2002

Moenie taalverraad pleeg

Die US-taaldebat verteenwoordig die embrionale begin van 'n epog midde-in 'n wankelend-steierende taalhede   -   'n taalhede wat skynbaar 'n eens selfstandige moedertaalverlede die rug toekeer en haar sonder begrafnisprotokol ter ruste kan lê.

Wat binne die mikro-taalbedieningskonteks aan die US geld, geld eweneens ook binne die makro-nasionale taalkonteks. Inteendeel, die ideologiese taalvirus wat die US tans tref, het ander tersiêre instellings reeds vroeër getref en 'n spoor van taalverwoesting agtergelaat. Die US bevind hom nou voor dieselfde taaltoets, en 'n toets word primêr of geslaag of gedruip.

Die multidimensionaliteit en multifunksionaliteit van 'n taal kan en mag nooit ontken word nie. Trouens dit word weerspieël in die diversiteit van legitieme invalshoeke van waaruit deelnemers aan dié taaldebat deelneem.

Die kernkonteks van die US, soos ook by ander hoëronderwysinstellings, behoort gedefinieer te word as 'n onderrig-leer-konteks. Die wese van die US-taaldebat behoort te sentreer rondom die primêr opvoedkundig-onderwyskundige taalbehoefte van studente. Dit is binne dié konteks waar moedertaal innig verweef is met werklikheid, waarneming, verskillende denkvorme  en denkuitkomstes, betekenisgewing, retensie, denkontwikkeling en, uiteindelik, potensiaalontwikkeling.

Tale dien as sleutels wat mensepotensiaal oopsluit, of nie oopsluit nie. In dié verband het Afrikaans hom reeds voldoende bewys as 'n sleuteltaal.

Die US durf dus nie taalverraad pleeg teenoor almal vir wie die Afrikaanse taal 'n sleuteltaal was, is en sal wees in die ontwikkeling van hul potensiaal nie. Die US-taalbeleid moet nie toelaat dat Afrikaans ooit tot taalkarkas vir die taalaasvoëls gemaak word ten koste van die potensiaalontwikkeling van die Afrikaanssprekende jeug nie.