Dit is met waardering dat ek van Maria Oewwels (Brieweblad, 06.03.03) en dr. Gerrit Brand (Brieweblad, 11.03.03) se taalstandpunte kennis neem. Ongetwyfeld sal daar sowel raakpunte as verskilpunte in ons onderskeie standpunte wees. Solank ons nie toelaat dat verskilpunte in geskilpunte ontaard nie, is en bly Afrikaans aan die wenkant.
Ek bly oortuig dat die gedagte van taaldwang met groot versigtigheid hanteer moet word. Ek is ten gunste van 'n vertrekpunt van tweetaligheid (in welke kombinasie ook al) ; dat mense sonder enige benadeling taalkeuses mag uitoefen ; dat verpligte drietaligheid realisties eers oorweeg kan word indien tweetaligheid aanwysbaar gevestig is ; dat sodanige taaldwang dan konsekwent van toepassing sal wees op almal en, voordat enige skoolgaande kind tot drietaligheid verplig word, die relevante owerhede eers sélf daartoe verplig word om hierin 'n lewende voorbeeld in die praktyk te stel.
Die blootstelling van leerlinge aan 'n swart streektaal op skool, mits die reg van ouers en leerlinge gerespekteer word, kan op lang termyn net beter verhoudinge bevorder. Alles sou egter nie pluis wees indien dit in 'n eensydige taalaanleer-aangeleentheid sou ontwikkel nie.
Kyk ons na die 1991-statistieke van die elf huistale, vind ons géén meerderheidstaal tussen hulle nie. Selfs die talrykste huistaal, Zoeloe (22%), is 'n minderheidstaal. Xhosa (17%) beklee die tweede, Afrikaans (15%) die derde en Engels (9%) die vyfde plek.
Hierdie taleminderhede skep 'n dilemma vir nasionale kommunikasie. Daarom maak die regering Engels tot nasionale voorkeurtaal ten koste van die ander tale. Die bedreiging vir Afrikaans is dus nie in die swart tale self opgesluit nie, maar in hierdie tale se "opting for English"-benadering.
No comments:
Post a Comment