Tuesday 4 March 2003

Taaldwang is nie die antwoord

Maria Oewwels (Brieweblad, 18.02.03) "...kan nie glo dat 'n swart taal...nog nie in skole verpligtend is nie." Ook dr. Gerrit Brand (Brieweblad, 20.02.03) wil sien dat "...dit verpligtend gemaak word om minstens drie amptelike tale op skool te leer."

Oewwels en Brand verdien steun vir hul ideaal van meertaligheid. Drietaligheid het reeds   -   hoewel sporadies   -   ongedwonge en natuurlik ontwikkel waar die lewensvatbaarheidsfaktore gelyktydig aanwesig is en dit spontaan momentum kry.

Twee belangrike vrae is egter : Hoe riskant is die toepassing van taaldwang by wyse van verpligte onderrig in 'n swart taal op skool, en watter soort implikasies hou sodanige taaldwang, soos wat Oewwels en Brand voorstaan, in?

Die aandeel van (die Afrikaanse) taal in die dramatiese Soweto-gebeure van 16 Junie 1976   -   as 'n voorbeeld van die riskantheid van taaldwang   -   is steeds relatief vars in die geheue.

Moontlike implikasies van diƩ taaldwang sou waarskynlik, onder meer, kon behels die genoodsaakte wysiging van die Grondwet en Handves van Menseregte, die onderwyswet, die bestaande kurrikulum, onderwysersopleiding en onderwysfinansiering.

Die Soweto-gebeure en enige moontlike implikasies van taaldwang behoort nie ligtelik deur voorstanders daarvan opgeneem te word nie   -   tensy daar beproefde strategieĆ« is om plofbare taalsituasies wat kan ontwikkel, suksesvol te ontlont.

Waarom 'n drang tot drietaligheid as tweetaligheid nog nie eens gevestig is nie? Waarom nie eerder daaraan werk om van tweetaligheid 'n sukses te maak as 'n logiese vooraf stap onderweg na drietaligheid nie? Aanvaar die eeue-oue uitdaging om die tipies-stedelik, obstruktiewe Engels-eentaligheidsmuur eers suksesvol af te breek ter voorbereiding vir tweetaligheid waarop drietaligheid dan kan volg.

Engelssprekendes verlaat die skool met oorwegend Afrikaans as hul tweede taal. Hierdie taaltoerusting, baie langtand verwerf, word egter by die skoolhek uitgetrek en agtergelaat wanneer hulle daar uitstap. Presies dieselfde kan gebeur met die gedwonge aanleer van 'n swart taal. Taaldwang blyk daarom nie die antwoord te wees nie.

No comments:

Post a Comment