In sy werk, Man's search for meaning, beskryf Viktor Frankl - mediese dokter en psigiater - die haglike konsentrasiekamplewe in die Tweede Wêreldoorlogse Duitse uitwissingskampe.
Hy onderskei drie reaktiewe ontwikkelingsfases in die psige van die kampbewoners : Die opname-, vestigings- en bevrydingsfase.
Die opnamefase is gekenmerk deur haas onverwerkbare skok en daaropvolgende traumatisering van die psige. Die psige kon die afgryse van die gaskamers en verbrandingsoonde net stapsgewys verwerk.
Vanweë sy beskermingsmeganisme het die insig dat alles verlore was, nie onmiddellik tot die psige deurgedring nie. Die traumatiese besef van totale uitwissing is vertraag.
Die verdwyning van gewaande hoop het daarna plek gemaak vir 'n siniese humorsin. Hiermee saam het 'n vreemdsoortige nuuskierigheid sy verskyning gemaak - 'n weetgierigheid ingestel op die allesoorheersende vraag : Sal ek oorleef?
Vanweë die hopelose situasie het die vrees vir die dood verdwyn en het selfmoordgedagtes verskyn : Die dood bied uitkoms en die geëlektrifiseerde kampomheining is die roete daarheen. Die psige was toe voorberei vir die tweede fase - relatiewe apatie, 'n tipe emosionele dood.
Hoe lyk die psige van die Afrikaanssprekende? Sal ons taal oorleef? Is die Afrikaanssprekende se apatiese ingesteldheid teenoor sy taal nie 'n barometer van sy psige nie? Frankl kom tot die slotsom : Om te lewe, is om te ly, en om te oorleef, is dit nodig om sin te vind in dié lyding. Hieruit ontwikkel hy sy bekende logoterapie. Wat gaan Afrikaanstaliges uit hul taalsituasie leer en ontwikkel?
No comments:
Post a Comment