AS leek weet ek dat, indien ’n bundel wit lig deur ’n glasprisma beweeg, dit volgens ’n opties-fisiese wet in ’n meerkleurige spektrum van “reënboogkleure” opgebreek word. Hierdie kompleks saamgestelde kleureband vertel my iets van die onontkenbaar tydlose waarheidsamestelling van wit lig.
Die vraag ontstaan of historiese waarheid nie ook op ’n soortgelyke wyse, soos die waarheidsaamgestelde kleureband van wit lig, wetmatig kompleks en geskakeerd aaneengeskakel is tot ’n groter historiese geheel nie. Is dit histories toelaatbaar om slegs één historiese tydsgreep, as geskakeerde onderdeel, uit te lig en “los te dink” van die historiese geheel? Is daar nie oorsaaklike verbande tussen voorafgaande en opeenvolgende tydsgreeplike gebeure in die historiese verlede nie? Indien wel, behoort sulke verbande aangetoon te word as ’n histories-wetenskaplike noodwendigheid.
Dr. Leopold Scholtz se goed beredeneerde artikel “Moenie apartheidstank oor wettige saak giet nie” (DB, 28/10), stoot voorgemelde vrae na vore. Ek meen die begrip “apartheidstank” verwys na ’n besondere tydsgreep as onderdeel van die tydsgreeplike geheel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Is dit billik om die “stank”-gedagte slegs van toepasing te maak op die 1948-1994-tydsgreep as ’n onderdeel van die Suid-Afrikaanse historiese geheel? Wat van die voorafgaande en daaropvolgende tydsgrepe? Ruik alles vóór 1948 en ná 1994 welriekend?
In die lente van 1902 besoek J. Ramsay MacDonald, latere eerste minister van Groot-Brittanje, Suid-Afrika na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog. In What I saw in South Africa, September and October 1902, stel hy sy indrukke te boek. Hierin sê hy: “Ek het oor honderde myle . . . die pad bestrooid gesien met die beendere van perde en beeste, en die stank van verrrottende vleis op die veld gevoel . . .” Inderdaad ’n onwelriekende (letterlike) stank veroorsaak deur oorlog. En nou: Indien daar van (figuurlike) “apartheidstank” gepraat mag word, mag daar dan ook van die (figuurlike) “stank” van kolonialisme en imperialisme gepraat word as historiese tydsgreep-onderdeel van die groter Suid-Afrikaanse historiese geheel? En wat van die hede? Ruik die golf van korrupsie oor ons land en die sterwende Afrikaanse taal aan ons tersiêre instellings welriekend en aangenaam?
Dit gaan nie hierin om ’n ontkenning van Scholtz se tydsgreeplike “apartheidstank” nie, maar wel om die erkenning dat die Suid-Afrikaanse geskiedenisgeheel waarskynlik ook deur ander “stankperiodes” gekenmerk word. Laat ons dus, aangespoor deur ons liefde vir historiese waarheid, die totale Suid-Afrikaanse verlede billik “besnuif”, en nie selektief doeldienlik nie.