Thursday, 18 October 2007

'n Teologiese revolusie

Dit lyk asof die tradisionele teologie só sterk geassosieer word met die apartheidsbedeling, dat dit uitgedien is en plek móét maak vir 'n plaasvervangende teologiese paradigma en paradigmatiese gemeenskap van teoloë. Die onderliggende aanname sou wees dat die tradisionele teologiese paradigma nié in staat is om die post-apartheid samelewingskrisis, waarin ons ons bevind   -   wat versoening, geregtigheid en kulturele grensuitwissing vereis   -   op te los nie.

Thomas Kuhn, 'n wetenskapsfilosoof, verwys na die vervanging van een paradigma met 'n ander paradigma, as revolusionêre wetenskap. Aanvanklik word 'n paradigmatiese krisis met ad hoc-maatreëls beheer. Uiteindelik word die bestaande, dog ontoereikende, paradigma, omver gewerp. Hy beskryf 'n wetenskaplike revolusie as 'n  revolusionêre breuk  met die verlede en verwys daarna as vergelykbaar met 'n  bekeringservaring. Hy wys ook op metaforiese ooreenkomste wat wetenskaplike revolusies met politieke revolusies toon. In laasgenoemde word die uitgediende vervang met die nuwe. Bestaande instellings word ingrypend verander en die oue en die nuwe is onversoenbaar met mekaar. Vanweë 'n konseptuele transformasie is weinig, indien enige, kommunikasie met mekaar moontlik.

'n Wetenskaplike revolusie kan net plaasvind indien daar 'n aanvaarbare alternatiewe paradigma beskikbaar is. Dit wil voorkom asof dr. Allan Boesak en sy gees-  en denkgenote, almal diep gewortel in die Bevrydingsteologie, baie hard werk aan só 'n alternatiewe teologiese paradigma en om dit  "bekeringswaardig" te maak vir die meerderheid van ons kerkleiers en teoloë. Hierin speel kerkhereniging geen geringe instrumentele rol nie.

Benewens vorige blyke van sy verbintenis tot Bevrydingsteologiese denke, verwys Boesak in  "Die prys is hoog, maar die einde is naby" (By tot DB,06.10.2007), na die  "revolusionêre Jesus" ,  en dat hy, Boesak, 'n  "erfgenaam van Gandhi"  is. Hy skryf ook dat hy die  "vermoë om lyding te verduur"  van Martin Luther King geleer het (en nié van Jesus Christus nie), en hy wys ook op  "die verbintenis tussen geloof en politieke verantwoordelikheid".

Dié duidelik-nuwe paradigma kan voorlopig die  "teologies-revolusionêre" paradigma genoem word. Met die potensiële aanvaarding van die Belhar-belydenis sal dit neerkom op die sanksionering van hierdie nuwe paradigma.

Met Boesak se aanstelling as 'n professor aan die Universiteit van Stellenbosch se kweekskool, kan daar gevra word of dié paradigma nie reeds die lesinglokale hier binnegedra word nie, tot watter mate en met watter gevolge?


1 comment:

  1. Ek is ongelooflik trots op Dr Boesak, as kleurling en immers sterk akademiese Suid-Afrikaner, in sy poging om die sterk gevolge van die Apartheidsregimie en kapitalisme op ons mense, op 'n uiters kragtige wyse aan te spreek. Ek wil by hom en Karl Marx aansluit in hul mening dat slegs revolusie in sy wàre vorm, die verskynsel van 'n kapitalistiese bestel sal omwerp om ten einde die swaar "kombers" van onderdrukking wat oor ons mense gegooi is, te vernietig. Ek salueer u Dr Boesak, dit het werklik tyd geword vir ware versoening.

    ReplyDelete