Tuesday 22 January 2008

Gays se troue skok steeds

Dr. Jean du Plessis se brief,  "Onkunde oor gay-wees" (DB,15.01.2008), verwys. Hy reageer op Hannes Slabbert se brief,  "Achmat-troufoto skok" (DB,09.11.2007). Hierin beskuldig Du Plessis vir Slabbert van  "sy eie vooroordele (en)... ook sy onkunde", en sê vir Slabbert : "doen jouself 'n guns en gaan lees oor homoseksualiteit, transseksualiteit en aanverwante onderwerpe voor jy weer sulke onsinnighede kwytraak",  en sluit sy skrywe af met : "...sarkastiese en katterige aanmerkings van mense wat nie weet waaroor dit gaan nie."

Soos Slabbert, is ek ook geskok oor dié huwelik wat deur regter Edwin Cameron voltrek is met spesiale toestemming van die minister van justisie.

Die afgedankte adjunkminister van gesondheid, me. Nozizwe Madlala-Routledge, het gesê : "...die land kan trots wees op wetgewing wat gay-huwelike moontlik maak" (DB,07.11.2007). Ek deel egter nié in dié gewaande  "trots"  nie. Me. Helen Zille het die plegtigheid as  "pragtig"  beskryf en die troupaar  "alle voorspoed en geluk"  toegewens.

Soos wat uit Madlala-Routledge se opmerking blyk, is gemelde huwelik moontlik gemaak deur wetgewing gebaseer op ons land se liberale Grondwet met sy gekoppelde Handves van Menseregte.  Anders as Du Plessis, vereenselwig ek my volkome met Slabbert se standpunt. Ek ken Slabbert persoonlik as 'n toegewyde volgeling van die Lewende God en Sy Woord. Ek was bevoorreg om by geleentheid saam met Slabbert, en nog ander, Bybels te kon uitdeel by die Kirkwood-gevangenis asook die plaaslike provinsiale hospitaal.

Wanneer Du Plessis vir Slabbert sê : "Terwyl jy so  'lag van skok' , kan jy verseker wees dat Zackie Achmat en verskeie ander gay mense waarskynlik veel meer vir ons land gedoen het as wat die meeste van ons in een leeftyd kan verrig",  bevraagteken ek Du Plessis se kortstondige en verganklike wêreldse ywer vir ons land in teenstelling met Slabbert se ywer vir 'n onverganklike Koninkryk.

Watter een van dié twee vorme van ywer is die duursaamste? Ek lees in Spreuke 28:4 : "Wie die wet van die Here verontagsaam, praat met lof van goddelose mense ; wie die wet onderhou, beveg hulle."

Wat my betref, met die Bybel as my maatstaf, beveg Slabbert diegene na wie die Woord as  "goddeloos"  verwys, want dit staan só duidelik daarin geskryf dat selfs 'n kind dit kan verstaan.

No comments:

Post a Comment