Thursday 31 January 2008

Verdeeldheid knou kerk

Dit moet lesers van die Brieweblad opval dat die teenoorstaande kampe in die gay-debat albei uit Christen-gelowiges bestaan. Daar is skerp verdeeldheid in geloofsgeledere wat betref die gay-verskynsel. Christene behoort tot 'n vinnig kwynende en brose geloofsgemeenskap en kan nie interne verdeeldheid bekostig nie.

Die oorsprong van hierdie verdeeldheid moet waarskynlik nie net by die lidmate nagevors word nie, maar ook by diegene van wie die geestelike leiding   -   en gepaardgaande ontwyfelbare Skrifwaarhede   -   aan lidmate moet uitgaan.

Gesien Petrus se daad van verloëning deur die openbare ontkenning van sy Meester, moet lidmate hulself afvra waar die grens lê tussen die stilswye en onbetrokkenheid van ons geestelike leiers en die verloëning van hul lidmate   -   die kudde oor wie hulle met groot sorg behoort te waak.

En wat dóén die kuddewagters? Dit is haas onmoontlik dat ten minste sommige van hulle nie van die jongste openbare gay-debat bewus is nie. Die vorige debat, waar het dit ons gelaat? Die gevolg is dat hierdie skadelike en verdelende debat tussen medegelowiges voortduur met geestelike leiers wat swyg en onbetrokke bly.

Is hierdie gebrek aan Skriftuurlike en rigtinggewende leiding deur ons geestelike leiers nie net nóg 'n simptoom van 'n omvangryker sindroom van kerklike verdeeldheid wat gekenmerk word deur volgehoue onsekerheid en hardnekkige besluiteloosheid nie? In 2006 nog het die NG Kerk 'n standpunt gehuldig van  "amptelike onsekerheid"  betreffende gay leraars in die bediening.

Twee Woordbedienaars in dieselfde gemeente   -   die een pro-  en die ander anti-kremasie   -   motiveer beide hul standpunt aan die hand van tekste uit dieselfde Bybel. Gemeentelede word verwar en verdeel, want wie moet jy glo? Voeg hierby bestaande kontroversiële aangeleenthede soos klein-  en grootdoop, die uitverkiesingsleer, die Belhar-belydenis en kerkhereniging.

Op soortgelyke wyse is dit moontlik dat die een geestelike leier die gay-verskynsel uit dieselfde Skrif probeer verantwoord en die ander een nié. Sou dit inderdaad die geval wees, kan daar nooit 'n einde aan dié debat kom nie ; die Woordbedienaars praat dan nie uit een mond nie.

Dit is nié in belang van die kerk se voortbestaan dat ons geestelike leiers hul plig langer versuim deur 'n gebrek aan leiding oor die gay-aangeleentheid en dat aanvalle deur Christengelowiges op mekaar in die openbaar, as 'n resultaat hiervan, voortgesit word nie. Dit dra veel daartoe by dat die kerk ook onder die eie lidmate toenemend in diskrediet verval. Satan wil juis hê dat die kerk homself sal verteer en vernietig.

No comments:

Post a Comment