Tuesday 12 February 2008

Leuens lei tot rampspoed

Anriëtte Schoeman (DB,30.01 en 31.01.2008) het een van die jongste slagoffers geword van die reeds algemeen gevestigde en suksesvolle gebruikmaking van die leuen. Háár verontregting is slegs één uitvloeisel van dié tydsgewrig in ons land wat, soos 'n vernietigende kankergewas, verwoestend voortwoed in ons samelewing.

Soos wat die meeste van ons weet, bestaan daar reeds 'n legio waarheidsverwronge manifestasies van die leuen, soos die huidige Eskom-krisis waarmee ons daagliks moet saamleef. Dit is kommerwekkend hoedat die leuen met toenemende sukses van algemene korrupsie, as een van sy hoofagente, gebruik maak. Korrupsie, rassisme, geweld, diefstal, moord en doodslag spring op soos paddastoele vanuit die duistere ondergrondse teelaarde van die leuen in sy gewelddadige aanslag op die waarheid.

Só word ons kinders as die toekomstige geslag in 'n leuen-besmette omgewing groot waarbinne die leuen stelselmatig tot waarheid, en waarheid tot leuen, gemaak word. Die bedoeling is juis dat hulle, as gevolg van 'n gebrek aan waarheidsuurstof, moet versmoor en uiteindelik 'n waarheidsdood moet sterf. Die leuen wil hulle lei tot 'n waarheid-ontheemde nuwe geslag.

Elkeen wat hom aan die kant van die waarheid skaar, moet homself afvra wat daar nóg verder agter die huidige leuen-horison skuil, want die leuenpes het rampspoedige en vernietigende gevolge.

In die soeke na 'n antwoord kan die geskiedenis van groot waarde wees. Bestudeer gerus die tragiese gebeure van die  19de  eeu in die Oos-Kaap wat histories bekend sou word as die nasionale selfmoord van die Xhosas.

Nonkwase, dogter van Umhlakaza, raadslid van hoofman Kreli, het onder die invloed van 'n toordokter en die voorvadergeeste voorspel dat op 'n sekere dag   -   17 Februarie 1857   -   'n orkaan-sterkte wind alle wit mense die see in sou waai indien haar mense al hul vee sou doodmaak en hul oeste verniel. Hierdie leuen is as waarheid aanvaar, geglo en met tragiese gevolge geïmplementeer. Nagenoeg  60 000  Xhosas het van honger omgekom. Uit hierdie historiese treurspel blyk die verband tussen leuen en ramspoed duidelik.

Watter verdere rampspoed kan agter die teenswoordige leuen-horison geantisipeer word as gevolg van die voortwoekering van die leuen in ons dag? Iets soos 'n bloedig-gedestabiliseerde Kenia? Kan ons werklik nog aanspraak maak op die verhewe benaming van 'n demokrasie, of het ons reeds in 'n leuenagtige demonekrasie ontaard?

No comments:

Post a Comment