Wednesday 27 February 2008

Probleme nie simplisties

Jan-Jan Joubert se artikel,  "Onderwys wil ontsnap uit dieptes gans verlore" (DB,13.02.2008), verwys. Hierin wys hy op twee skokkende onderwysbevindings : "'n Internasionale ondersoek waarin die gebrekkige vaardighede van ons land se kinders bevind is",  en  "'n bevinding oor (on)veiligheid in skole",  maar sê dan :  "swartgalligheid oor hierdie bevindings is oorbodig."

Vir Joubert is die onderwys  "simptomaties van 'n gemeenskap onder konstruksie."  Hierin is hy reg, maar ek meen die huidige onderwysbenadering is veel meer van 'n dekonstruktiewe aard as onder positiewe  "konstruksie". Hy erken egter dat dit tans  "nag in die onderwys is", maar sê ook  "dit was nog altyd (nag)". Hy verwys ook na  "hierdie land se gruwelike verlede...waar die regering absoluut verbind was tot minderwaardige onderrig vir mense ; hoe donkerder, hoe erger." Joubert beweer ook  "dat die onderwyssituasie in ons land nog altyd swakker was as nou."  Dit is beslis 'n aanvegbare én ongekwalifiseerde stelling wat op onverskoonbare oningeligtheid en onkunde berus.

Dit is duidelik dat Joubert die huidige en vorige onderwysbedelings met mekaar vergelyk en kwistig kritiek teen laasgenoemde probeer inbring. Een belangrike vraag is egter óf Joubert se stellings in die waarheidstoets van die onderwysverlede slaag, want dit sal bepaal of hy hom met gesag oor die onderwys uitlaat, en óf hy maar net die ANC na die mond praat om guns te wen.

Alhoewel niemand van die reg ontneem kan word om hom of haar binne 'n demokratiese bestel oor die onderwys van die dag uit te laat nie, moet ons tog onderskei tussen persoonlike menings, en uitsprake wat berus op die gesag van deskundige ondersoek.

Joubert se enkeldimensionele denkbenadering tot die onderwysproblematiek, waarin daar van simplistiese eenrigtingdenke gebruik gemaak word en wat uitmond in die vorige onderwysbedeling as enkele sondebok, ontbreek aan realisme wat alleen moontlik is deur 'n veeldimensionele denkbenadering waarvolgens daar in alle moontlike rigtings gesoek word na redes ter verklaring van die huidige onderwyskrisis.

Het Joubert homself sodanig vergewis van die komplekse redes vir die historiese verloop van ons land se onderwysgeskiedenis sodat hy bo enige twyfel tot sekere gevolgtrekkings daaromtrent kan kom, of bespiegel hy maar net?

Ek wil 'n beroep op Joubert doen om nié van ongetoetsde inligting gebruik te maak om wit Afrikaners in die modder af te trek nie.

No comments:

Post a Comment