Friday 15 February 2008

'Optelsom' werk nie

Naas Viljoen se brief,  "Mense kla net, maar doen niks" (DB,11.02.2008), verwys. Hy bring op 'n insiggewende wyse dié dinge in perspektief wat in baie van ons se harte leef, dog waaromtrent ons ietwat huiwerig is om dit só openlik te stel.

Soos wat ek Viljoen vertolk, spreek hy die spanningsveld aan tussen die pole van magteloosheid :  "Al wat ons daagliks daaraan doen, is om die klagstaat teen die regering...te verfyn...'n soort bevrydende oefening" , en hoop, wanneer hy vra : "Wat van boodskappe van hoop?"

Dit is duidelik dat hy 'n navolgenswaardige keuse maak om nié deel van die probleem te wees nie, maar wel deel van die oplossing. Dit blyk uit sy aktuele vraag : "Hoekom bly sit ons soos 'n spul gehipnotiseerde muise voor die ANC?"  Natuurlik is dit bloot normaal dat elke mens daarna streef om 'n toestand van magteloosheid te omskep in een van bevrydende hoop.

Sy logika blyk foutloos wanneer hy sê : "Breek dié party (ANC) se oordonderende politieke mag in die land."  Sy strategie hiertoe is  "om saam met die 'beter fragment' 'n nuwe politieke bestel te vestig. Dit is 'n eenvoudige politieke optelsom."  Die vraag is egter :  Op watter grondliggende aannames berus hierdie stelling?

Daar is drie redes waarom ek aan Viljoen se strategie twyfel. Eerstens verwys hy na die  'beter fragment'  van die ANC   -   die  "doves"  teenoor die  "hawks"  binne dié party. Op 'n vasteland soos Afrika, waar die wet van  "a fight for existence and the survival of the fittest"  dikwels stééds geld, kan ek nie aan gevalle dink waar samewerking tussen gematigde swart en wit mense suid van die Sahara die toets van die tyd deurstaan het nie.

Tweedens dink ek dat die verskynsel van swart solidariteit   -   gevoed deur 'n sterk anti-koloniale en anti-blanke sentiment en met die apartheidsalbatros steeds om ons nek   -   uiteindelik die oorhand sal kry op 'n kontinent waarvan daar al gesê is :  Afrika het nié wit kinders nie!

Derdens impliseer Viljoen se oplossing 'n vorm van magsdeling tussen wit en swart. Wat dit betref, het die De Klerk-bewind voldoende bewys dat ook sódanige magsdeling 'n blote illusie is en tot mislukking gedoem is. So, watter legitiem-lewensvatbare opsies bly oor om die ANC se oordonderende mag te breek? Mag Viljoen egter korrek en ek verkeerd bewys word.

No comments:

Post a Comment