Wednesday 20 February 2008

Kyk na oorsake van agteruitgang

Dit is interessant dat mense eerder sal fokus en reageer op sigbare simptome as op die soeke na die dieperliggende, onsigbare oorsake van sulke simptome. Vanweë hierdie ongebalanseerde benadering, deur die beklemtoning van simptome alleen, het die kritiese reaksie op laasgenoemde byna al tot 'n simptomatologie   -   'n ondersoekende aksentuering van simptome   -   ontwikkel. Daarteenoor is 'n etiologiese benadering   -   wat die oorsake ondersoek   -   veel meer konstruktief en produktief.

Eergister nog was die simptome waarop ons ywerig gereageer het die wapenskandaal, vervallende gesondheidsdienste, die parlementêre reisskandaal, die vuurwapenwet en 'n ellelange lys van korrupsie en onbevoegdheid van diegene wat ons as burgerlike samelewing regeer.

Net gister was ons nog besig om vurig te reageer op die onderwys-  en Eskom-krisis en die ontbinding van die Skerpioene toe die skole-eedaflegging   -   'n verdere simptoom   -   sy opwagting maak.

Dit is duidelik dat dié simptome in frekwensie én momentum toeneem. Diegene met die nodige insigte kan ons help deur al hierdie eskalerende simptome in mekaar te pas, waardeur 'n prentjie geleidelik vorm en gestalte kan aanneem, met die doel om ons na die óórsake te lei.

Ek wil, voortydig, waag om te beweer dat die kern van ons probleme opgesluit lê in dit wat ons kultuur noem. Dit lyk vir my dat kultuurverskille (en spesifiek agterstande en kulturele ongelykhede)  een van die hoofoorsake is   -   indien nie dié oorsaak nie   -   van die huidige simptome-verskeidenheid.

Die twee hoofkulture in ons land   -   elk met sy eie subkulture   -   is onderskeidelik van Afrika-  en Europese oorsprong. Albei is, in verskillende opsigte, dominante kulture. Die Afrika-kultuur domineer getalle-gewys of kwantitatief, en die Europese kultuur domineer gehalte-gewys of kwalitatief, wanneer jy aan Suid-Afrika as 'n Westers-georiënteerde ontwikkelende land sou dink.

Wat ons egter sedert  1994  ervaar, is dat die kwantiteit-gedomineerde kultuur nou in beheer is en die erflating van die kwaliteit-dominante kultuur hopeloos onsuksesvol bestuur word as gevolg van 'n inherente historiese kultuuragterstand vanweë traer kultuurontwikkeling. Dit moet gesien word as 'n belangrike rede vir die algemene verval en agteruitgang in ons land waarvoor die ANC dikwels apartheid blameer.

Kan geloofwaardige kundiges ons dan nie adviseer oor hoe wit mense   -   'n kultureel-uitgelewerde minderheidsgroep   -   in hierdie land gaan oorleef indien sake voortdurend in trurat gaan beweeg soos wat tans die geval is nie? Vir diegene van ons met kinders oorsee, begin hul landsverlating toenemend sin te maak.

No comments:

Post a Comment