Die onlangse tyd is gekenmerk deur verskeie berigte oor die onveiligheid van skole. Uit die veelseggende opskrifte van dié berigte - "SA skole is die gevaarlikste ter wêreld, toon studie" (DB,06.02.2008), "Onveilige skole 'n rede vir swak prestasies" (DB,07.02.2008) en "Departement ondersoek nie geweld by skool" (DB,08.02.200) - kan daar heelwat afleidings gemaak word.
Een van die vele basiese behoeftes van enige mens, is die behoefte aan veiligheid. Dié behoefte vind juis uitdrukking in staatsinstellings soos die weermag, polisiediens, regspleging en korrektiewe dienste met die oog op die gelyke beveiliging van alle landsburgers onder 'n gemeenskaplike grondwet. Hierdie burgerlike aanspraak op beskermende beveiliging geld ook vir die nasionale skolekonteks.
Suksesvolle opvoeding en onderwys berus op 'n komplekse reeks voorwaardes waaraan gelyktydig en / of opeenvolgend voldoen moet word. In moderne, vooruitstrewende samelewings is hierdie voorwaardes reeds dermate geïdentifiseer en geïmplementeer sodat onderwys ontwikkel het tot die ruggraat van wetenskaplike en tegnologiese vooruitgang en algemene welvaartskepping. Knel die onderwys, en dit gaan gepaard met agteruitgang en 'n daling in lewenspeil.
Net soos wat navorsing en opeenvolgende studies die primêre posisie van moedertaalonderwys in die maksimale ontsluiting van leerder-potensiaal reeds oortuigend uitgewys het, net so is dit ook die geval wat betref 'n veilige onderrig- en leeromgewing. Daar móét voldoen word aan leerders se behoefte aan veiligheid en geborgenheid.
Dit is jammer dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se bekendmaking van die resultate van sy ondersoek na geweld en wanorde in Suid-Afrikaanse skole nie terselfdertyd die vinger op die wond lé deur óók te sê presies wátter skole en -omgewings skuldig is aan die skep van onveilige toestande nie.
By 'n gebrek hieraan word die indruk gewek dat álle skole dien as agente vir "'n patroon van geweld en wanorde" (DB, 06.02.2008).
Verskeie interne sowel as eksterne faktore dra by tot skole as veilige óf onveilige ruimtes. Leerders se reg op onderwys is die plig van owerheidsinstansies wat daarin moet voorsien. Volwassenes in 'n spanverband - soos die nasionale en provinsiale ministers van onderwys, departementele amptenare, skoolhoofde, onderwysers, ouers en gemeenskapsleiers - dra die primêre verantwoordelikheid vir die skepping van leerder-vriendelike skoolomgewings.
Dit is duidelik dat die geïmplementeerde ANC-denke en -beleid nié te vertrou is met die onderwys én toekoms van ons kinders nie. Dit word toenemend duidelik dat ons al hoe swakker vergelyk met die onderwysstandaarde van ander lande. Ook ons tersiêre instellings word nadelig hierdeur geraak.
No comments:
Post a Comment