Ek het lanklaas 'n artikel gelees wat van soveel hand-in-eie-boesem eerlikheid en nugtere objektiwiteit getuig as Philda Essop se "Só kan bruin mense hul uitdagings self aanpak" (DB,11.06.2008). Synde van 'n uitsonderlike gehalte, onderskei dié artikel sigself in die joernalistieke sfeer.
Essop weet waarvan sy praat en doen dit in reguit taal. Haar mense "ken die kuns van ware integrasie...word misken in die werkplek en politiek...wat weens regstellende aksie sukkel om te vorder...want ons het (kwansuis) nie hard genoeg geveg vir die politieke bevryding van die land nie."
Sy erken dat bruin mense tydens die vorige bedeling "sementblok-huise en 'n beter onderwysstelsel as ons swart broers en susters gehad (het)."
Essop het haar vinger op die pols met haar vraag : "Wat is die probleem in die bruin gemeenskap?" Haar antwoord is ooreenstemmend eerlik : "Dit is gebrek aan leierskap en trots op wie jy is." Vervolgens ontbreek daar "'n sterk gevoel van identiteit" , en, sê Essop : "Ons móét onsself ophef." Vir dié doel het "ons kinders...rolmodelle nodig (sodat) vooraanstaande bruin leiers...aan bruin kinders bekend gestel word."
Essop se artikel styg uit deurdat daar geen aanvallende of kwetsende verwyt daarin te vind is nie. Sodoende skep sy 'n realistiese basis vir bruin uitdagings in 'n veelvolkige samelewing. Só 'n visie bied hoop.
No comments:
Post a Comment