Dit bly vreemd, dog ook interessant, dat sommige mense op 'n onbeskaamde wyse hulself in die openbaar lagwekkend kan voorstel, sommige op 'n merietevolle wyse; ander op 'n bejammerenswaardige wyse.
Dink hier, byvoorbeeld, aan persone soos die welbekende nar, Francesco, en ook Elsabé Brits. Francesco was gedurende sy leeftyd 'n oortuigde, en getuigende, Christengelowige wat by geleentheid van homself gesê het: "I am a fool for Christ!" Hiermee kan ek persoonlik ten sterkste identifiseer.
In haar berig, "Fossielvonds 'verlore skakel na die mens' " (DB,21.05.2009), berig Elsabé Brits aangaande die sogenaamde "menslike herkoms". Sy berig daarin oor die ontdekking van 'n "primitiewe primaat...wat sowat 47 miljoen jaar gelede...in die woude van Duitsland gesterf het...toe sy in die Messelmeer...verdrink...het." (woude? meer? meer-in-woude? onduidelike beriggewing)
Hoewel vernoem na Charles Darwin - Darwinius masillae - heet dié fossiel, Ida, in die volksmond. "Ida... is een van die belangrikste primaat-oorgangsfossiele...wat tot nog toe gevind is...(en) aan die wortel van antropoïed-evolusie...wat na die mens gelei het...(en) wat menslike evolusie verduidelik."
Die Ida-fossiel "...toon 'n oorgang tussen die lemurs na die primaat-stamlyn, wat uiteindelik na die mens gelei het." Die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) verduidelik 'n lemur as 'n Madagaskarse nagaap, en 'n primaat as 'n soogdier wat tot ape en halfape (primate) behoort.
En nou pas Ida'tjie gerieflik tussen die lemur en die primaat-stamlyn sodat sir David Attenborough van die lank- en veelgesoekte "vermiste skakel" sê: "Die skakel word nie meer vermis nie" ; ook dat dié gevonde "menslike familieskakel" se "foto vir die volgende 100 jaar in handboeke sal wees."
My gelukwensing aan Elsabé Brits, sou sy self persoonlik al die voorgemelde onderskryf, met dié wonderlike "deurbraak" in die genealogiese soeke na haar voorsate. Soos wat sy hulle hier ónder gesoek en gevind het, so sien ek met verwagting daarna uit om myne wel daar Bó te vind. (ngn)