Cas Terblanche se skrywe, "Perke van vryheid van spraak oorskry" (DB,14.11.2009), verwys.
Studente wou by geleentheid weet waarom daar, soms radikaal uiteenlopend, verskille in onderwysbeskouing bestaan. Ek het dié vraag probeer beantwoord aan die hand van onder meer 'n geprojekteerde transparant waarop daar 'n buitelyn-voorstelling van 'n ongedefinieerde "ding" was. Hulle het dié "ding" op uiteenlopende wyses vertolk.
Die meerderheid het in dié "ding" óf 'n konyn óf 'n pikkewyn gesien, terwyl dit die uitsonderinge was wat 'n fopspeen, 'n aartappel of hamer in dié "ding" gesien het (waarneming is uniek van aard). Met hierdie demonstrasie is aangetoon hoedat verskillende mense na presies dieselfde "ding" kan kyk en tog nie "dieselfde ding" sien nie. Dit verduidelik gedeeltelik die verskille in onderwysbeskouing, verskille wat iewers in die menslike psige opgesluit moet wees.
Dieselfde geld die verskil in reaksie by lesers van die brieweblad. Hoewel ek aangaande my brief (DB,10.11.2009) van Terblanche verskil, het ek teen die agtergrond van die voorafgaande verduideliking tog begrip vir sy siening daarvan. Hy het iets daarin gelees wat nie noodwendig deur die meerderheid gelees is nie.
Sommige hoëprofiel-mense van openbare statuur, soos 'n Zuma en 'n Boesak, is reeds vanweë hul omstredenheid deur spotprenttekenaars gekarikaturiseer. Soos wat karikaturiste humor prentgewys uitbeeld, so wou my brief humor in woordvorm verbeeld. Menings oor die toepaslike gebruik van "walglik" en "skokkend" is relatief en arbitrêr, nie eksak nie. Ek vind dit in spotprente van "stortkop Zuma" ; tog kritiseer ek nie die spotprenttekenaar nie omdat ek staatmaak op Die Burger se joernalistieke oordeel wat humorbegrensing betref.