Almal van ons slaan die een of ander tyd ons naam met 'n plank, sommige net meer as ander. Net die uitsonderlikes hou dermate vol dat hulle dié plank tot splinters slaan. Dit is die beeld wat die berig "Kollig was nie glansryk genoeg vir Allan Boesak" (DB,05.11.2009), oproep. Hiervolgens het Boesak "gekies om te spring" . Die HAT noem 'n klugtige sprong 'n kaperjol.
'n Mens sou oor Boesak se jongste kaperjol, in 'n rits van kaperjolle, kon lag as dit nie so tragies was nie. Waarom? Hier is 'n man met uitsonderlike talent ter opheffing van sy mense, wat hy egter hoofsaaklik in eie belang aanwend.
Daar is monumente opgerig vir fiktiewe mense, soos Don Quichote en Baron von Münchhausen, wat die verbeelding minder aangegryp het as Boesak. Waarom nie ook een vir Boesak oprig nie? Tussen die Freiwillige Feuerwehr-gebou en die Passions Theater in Oberammergau is daar 'n Jesusbeeld op 'n donkie bo-op 'n rots waaruit helder waterstrome vloei. Ek dink Boesak is 'n boorling van Upington se wêreld, 'n omgewing waar 'n donkiebeeld reeds opgerig is ter erkenning van die uitnemende bydrae van dié dier tot dié kontrei.
Waarom kan Boesak, na die voorbeeld van die Meester, nie sit-gemaak word op dié donkiebeeld nie? Bied asseblief tog ook vir dié pendelaar - tussen kansel en politiek - 'n ambassadeurspos aan ; aanstons ontwrig hy weer die kerklike lewe.
No comments:
Post a Comment