Daar is twee kenmerke betreffende ons swart landgenote wat my nog altyd fassinerend oor hulle laat verwonder het, en dit is, eerstens, hul oënskynlike blymoedigheid ten spyte van die haglikste omstandighede, en, tweedens, hul onwrikbare solidariteit met hul eie mense, ongeag sulke omstandighede.
Enkele jare gelede het prof.D.F.M.Strauss, van die Departement Filosofie aan die Vrystaatse Universiteit, 'n artikel geskryf oor "kritiese solidariteit" waarbinne hy drie fases onderskei. Eerstens is mense solidêr met mekaar aangaande 'n bepaalde saak. Algaande begin hulle verskil en noem hy dié fase kritiese solidariteit. Nog later vergroot dié verskille sodanig dat kritiek breek met solidariteit en in die laaste fase net kritiek oorbly.
In die 70-ger en 80-ger jare van die vorige eeu is swart onderwysgriewe der mate ideologies uitgebuit dat dit tot grootskaalse boikotte en vandalisme sou lei om 'n dekade later die apartheidsregering omver te werp. In dié polities-gedrewe onderwysstryd teen "gutter education", is 'n ganse geslag van die swart jeug opgeoffer na wie as die "lost generation" verwys is.
Ironies, én tragies, genoeg, het die toenmalige bevrydingslagspreuk van "liberation before education" egter in die gesigte van die huidige geslag van die swart jeug ontplof in die vorm van hul eie, plaasvervangende, dog mislukte, onderwysstelsel - 'n tweede geslag van die swart jeug is opgeoffer vir swart ideologiese ideale.
In die lig van Strauss se fases van solidariteit, kan 'n mens net wonder of dié mislukte swart onderwysstelsel swart mense enigsins sal laat beweeg na kritiese solidariteit, al dan nie - en daarmee saam na kritiek teen die ANC - en of hulle steeds onwrikbaar aan swart solidariteit gaan vasklem, ongeag hul eie benadeling.
Indien die swart meerderheid bly vashou aan lojale solidariteit teenoor 'n mislukkende regering, noem ek dit irrasionele solidariteit wat ons land gevange gaan hou in agteruitgaande verval en die daaropvolgend verknegtende armoede van alle landsburgers. (ngn)
No comments:
Post a Comment