Wednesday, 29 September 2010

Laat kerk en ouers kinders in steek?

My vorige brief het, volgens Brieweblad se keuse, onder die opskrif, "Mag leerkragte kinders so mislei?" (DB,22.09), verskyn. My voorstel vir 'n opskrif was, "Gee ouers nie meer om vir kinders nie?", om daarmee aan te dui dat my brief aan ouers eerder as leerkragte gerig was.
Van die Lewenswetenskappe-leerkrag se onbenydenswaardige situasie is ons wel deeglik bewus. In "Evolusieleer in skole is realiteit wat bly  -  Hanekom" (DB,15.11.08), sê mnr. Derek Hanekom, adjunkminister van wetenskap en tegnologie, "...dat (die) evolusieleer in Suid-Afrikaanse skole geleer word en daar aangehou sal word om dit te doen."

Met hierdie uitspraak gee die ANC, deur Hanekom, nie net toestemming aan leerkragte om evolusie te onderrig nie, maar inderdaad die opdrag daartoe. Derhalwe is daar begrip vir die posisie van dié leerkrag in die klaskamer.

Brieweblad se briefopskrif óf leerkragte kinders mag mislei, is egter geweldig belangrik. Vanuit beide 'n opvoedkundig-onderwyskundige én Christelike perspektief, is die antwoord ondubbelsinnig, nee! Vanuit 'n ANC-perspektief is die antwoord egter ondubbelsinnig, ja!

Die vraag aan predikante, ouers en leerkragte is: By watter van hierdie standpunte skaar u uself? In my skrywe van 22.09 het ek gewys op die standpunt van enkele Christenleerkragte hieromtrent, wat Christenouers tot nadenke behoort te stem. Uit sodanige standpunt van sommige Christenleerkragte is dit nie duidelik of hulle wel evolusie-georiënteerde Christene, of Christelik-georiënteerde evolusioniste is nie. Hoe dit ook al sy, volgens wat die Bybel ons leer, is dit nié moontlik om tegelyk Christus en die evolusieleer aan te hang nie.

Waaroor dit wél hier gaan, is die beskerming van Christen-verbondskinders teen die evolusieleer en die rol daarin van, spesifiek, Christenleerkragte, maar óók hul blootstelling aan nie-Christenleerkragte.

Met die duidelike tendens dat die kerk nie langer waak oor die onderwys van sy doop- én belydende lidmate nie, is die vraag of ook óúers nie toenemend hul kinders in die steek laat nie.

Tuesday, 21 September 2010

Gee ouers nie meer om vir kinders nie?

Gedurende die afgelope eksamen moes matrikulante weer eens vrae beantwoord oor evolusie in die leerarea Lewenswetenskappe, Vraestel 2.
Die verandering van die vaknaam Biologie na Lewenswetenskappe verteenwoordig 'n paradigmaskuif binne dié vakgebied. Die wetenskapsfilosoof, Thomas S. Kuhn, vergelyk 'n paradigmaskuif met 'n "bekeringservaring", wat dit inderdaad ook is wat betref sommige leerkragte binne dié vakgebied.

Uit gesprekke met leerkragte wat hierdie vak aanbied op skool, blyk daar nie eenstemmigheid te wees oor die wenslikheid van die ongekontroleerde blootstelling van kinders aan evolusie-inhoude nie. Van hierdie leerkragte, ook as belydende Christene, is heel gelukkig om te aanvaar dat hulle van aapagtiges afkomstig is. So beweer een leerkrag: Niemand het God nog ooit gesien nie; hoe kan daar dan bewys word dat God nie ook maar soos 'n aapagtige voorsaat lyk nie? Hierdie Christen-leerkrag het duidelik vergeet dat Jesus gesê het: "En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het" (Johannes 12:45).

God, 'n Wese wat kwansuis "evolueer"? Is dit wat die Bybel ons leer? Nee! Maleagi 3:6 sê: "Ek, die Here, het nie verander nie..."

Meer as een van dié evolusie-ondersteunende Christen-leerkragte beroep  hulle ook op hul skoling deur Christendosente synde "pragtige Christengelowiges" te wees. Wil hierdie leerkragte te kenne gee dat hulle veel eerder hul opleiers glo as die Woord van God?

Indien leerkragte, as volwassenes, dan só maklik vatbaar is vir beïnvloeding deur "wetenskaplike leermeesters", hoeveel te meer nie ons kinders nie? En die ouers? Wat onderwysers sê, is mos onaantasbaar, of hoe? Durf ouers onderwysers teengaan?

Sommige vakklaskamers het inderdaad geestelike oorlogzones en slagvelde geword. Statistiek uit sowel die VSA (dr. Kent Hovind) as SA (prof. Branch) bevestig dit. Leerkragte mag wel glo wat hulle wil, maar mag hulle kinders mislei? En ouers   -   is hulle self nie meer waarheidsoekend ingestel nie, en/of gee hulle net nie meer om vir hul kinders nie?

Tuesday, 14 September 2010

Verwaarloos jeug, en vernietig die toekoms

'n Besoek aan die kinderafdeling van 'n klerewinkel vestig opnuut die aandag op die "boodskappe" wat kinderklere "adverteer".
"The last hope for humanity rests in the hands of an alien"; "Ben 10 Alien force"; "The whole planet is mine!!! And you should please me!!!"; "Batman Dark Knight"; "The secret Saturdays"; "Evolution" en "Serpiente (slang) Revolution", is maar enkele van dié boodskappe wat kinderklere "adverteer".

Myns insiens, is hierdie "advertensies" voorbeelde van "boodskappe" vanuit 'n oord wat op subtiele wyse op geestelik-weerlose en hedendaags-kwesbare kinders gemik is. Dit is ongetwyfeld deel van die volgehoue bombardemente op ons Christelike geloofsvesting met die jeug as uitgesoekte teiken.

Gemelde voorbeelde is waarskynlik nog "mak" in vergelyking met wat elders ter wêreld vir dié doel van kindermisleiding     -   deur middel van allerlei variasies van okkultiese en demoniese simbole   -   gebruik word om die kind weg te lei van Jesus Christus as sy enigste Verlosser en Saligmaker.

Volwassenes wéét hoe beïnvloedbaar en vatbaar kinders is vir dié voorstellings van karakters wat maklik tot navolgenswaardige "held" verhef en spontaan mee geïdentifiseer word. Ouers versterk dit verder deur 'n verjaardagpartytjie rondom so 'n "held" in te klee.

Waarom sal 'n ouer voorkóm dat sy kind aan 'n giftige slang blootgestel word, maar nié teen geestelike vergiftiging nie? In Lukas 11:11-12 vra Jesus: "Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee...of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee?"

Is daar ouers wat besig is om vir hul kinders "slange en skerpioene" te gee wanneer hulle om "vis of 'n eier" vra wanneer dit kom by die voorsiening in die kind se behoeftes?

Die hand wat die wieg skommel, bepaal die toekoms. Verwaarloos die jeug, en vernietig só ons geloofstoekoms.

Friday, 3 September 2010

Los staking en veg ANC by die stembus

In opvoedkundig-onderwyskundige kring ken ons die waarheid én trefkrag van die uitdrukking : Woorde wek, maar voorbeelde trek. Daar is ongetwyfeld inherente gesag, én mag, opgesluit in voorbeelde. Die huidige staking is grootliks toe te skryf aan die invloed van die voorbeeld van die selfverrykende ANC-leiers.

Vir etlike jare reeds sien ANC-ondersteuners toe hoedat hul leiers hulself verryk terwyl hulle, die lojale ondersteuners, net dieper in armoede versink. Daar móét 'n keerpunt kom én 'n verskuiwing plaasvind. Ongelukkig vind dié verskuiwing nie plaas volgens die tipiese Afrika-idee van "ubuntu" nie, maar in navolging van die eiebelang-voetspoor van die ANC-base se voorbeeld van persoonlike selfverryking.

Die huidige staking moet hoofsaaklik voor die deur van die ANC se inhalige leierskorps, en die invloed van hul korrupte voorbeeld, gelê word. So beweer die Cosatu-leier, Zwelinzima Vavi, dan ook tereg dat "...Suid-Afrika se  'korrupte politieke elite'  besig is om die land in 'n  'volbloed-roofdierstaat'  te omskep...politieke hiënas (wat) die staat toenemend gebruik om ryk te word..." (DB,27.08).

Volgende in dié selfverrykende ANC-leiersvoetspoor, vind ons in die staking tegelyk ook 'n uitdagende werkersmagsvertoon binne ons demokratiese vryemarkstelsel. Dié staking blyk méér as net 'n konflik van belange tussen werker en werkgewer te wees. Dit bevat ook 'n sterk element van "werkers-regstellende-aksie". As die ANC-base dan die gans wat die goue eiers lê kan beroof, waarom dan nie ook die ANC-klase nie?

Alhoewel daar begrip is vir die werkers se frustrasie en woede met hul leiers, is die meganismes waarvan hulle gebruik maak om hul doel te bereik  -   geweld, intimidasie, infrastruktuur-vernietiging en onskuldiges se dood in hospitale   -    onaanvaarbaar en verwerplik. Die aanvaarbare weg is om die ANC-selfverrykendes by die stembus te beveg.