In opvoedkundig-onderwyskundige kring ken ons die waarheid én trefkrag van die uitdrukking : Woorde wek, maar voorbeelde trek. Daar is ongetwyfeld inherente gesag, én mag, opgesluit in voorbeelde. Die huidige staking is grootliks toe te skryf aan die invloed van die voorbeeld van die selfverrykende ANC-leiers.
Vir etlike jare reeds sien ANC-ondersteuners toe hoedat hul leiers hulself verryk terwyl hulle, die lojale ondersteuners, net dieper in armoede versink. Daar móét 'n keerpunt kom én 'n verskuiwing plaasvind. Ongelukkig vind dié verskuiwing nie plaas volgens die tipiese Afrika-idee van "ubuntu" nie, maar in navolging van die eiebelang-voetspoor van die ANC-base se voorbeeld van persoonlike selfverryking.
Die huidige staking moet hoofsaaklik voor die deur van die ANC se inhalige leierskorps, en die invloed van hul korrupte voorbeeld, gelê word. So beweer die Cosatu-leier, Zwelinzima Vavi, dan ook tereg dat "...Suid-Afrika se 'korrupte politieke elite' besig is om die land in 'n 'volbloed-roofdierstaat' te omskep...politieke hiënas (wat) die staat toenemend gebruik om ryk te word..." (DB,27.08).
Volgende in dié selfverrykende ANC-leiersvoetspoor, vind ons in die staking tegelyk ook 'n uitdagende werkersmagsvertoon binne ons demokratiese vryemarkstelsel. Dié staking blyk méér as net 'n konflik van belange tussen werker en werkgewer te wees. Dit bevat ook 'n sterk element van "werkers-regstellende-aksie". As die ANC-base dan die gans wat die goue eiers lê kan beroof, waarom dan nie ook die ANC-klase nie?
Alhoewel daar begrip is vir die werkers se frustrasie en woede met hul leiers, is die meganismes waarvan hulle gebruik maak om hul doel te bereik - geweld, intimidasie, infrastruktuur-vernietiging en onskuldiges se dood in hospitale - onaanvaarbaar en verwerplik. Die aanvaarbare weg is om die ANC-selfverrykendes by die stembus te beveg.
No comments:
Post a Comment