Friday, 28 January 2011

Is God ondergeskik aan die wetenskap?

Vele Christengelowiges het waarskynlik Sandra Troskie (BY,22.01) se artikel, "Die evolusie van God (Ja, Hy verander ook)", met ontsteltenis gelees. Daarin word te kenne gegee dat ook die God van die Christendom "...deur sy eie proses van evolusie gaan (en daarom) ...was hy nêrens in die religieuse geskiedenis van die mensdom ooit 'n ónveranderlike god nie."

Hierdie bewering maak die Bybel en sy Outeur tot leuenaar, 'n Outeur wat, daarteenoor, die volgende van Homself sê: "Ek, die Here, het nie verander nie..." (Mal.3:6); "U bly dieselfde..."(Ps.102:28) en "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid" (Hebr. 13:8).

Vanwaar dan dié gewelddadige aanslag op die waarheid van die Woord? Efesiërs 6:12 antwoord met: "Ons stryd is...teen die bose magte van hierdie sondige wêreld..." Dit is presies wat ek, as Christengelowige, raaklees wanneer Troskie beweer: "...die meeste aanhangers van die wêreld se religieë (waaronder ook Christene) ervaar...min spanning tussen hul skeppingsverhale en teorieë soos dié van die oerknal en evolusie."

Troskie verwys na prof. Willie Esterhuyse wat sê: "God...is 'n god wat deur sy eie proses van evolusie gaan; 'n proses aangedryf deur die voortgaande (en nodige) kritiek wat die mensdom op sy gode het...God is dus die ewig veranderende...daarom kán geen geloof sonder die wetenskap oorleef nie...Enige geloof wat hierdie wete ignoreer, sal uiteindelik sterf."

Troskie kom tot die slotsom dat "...wat die wêreld vandag nodig het, is mense wat bereid is om hul gode in die naam van reg en geregtigheid uit te daag." Dié denklyn is duidelik: Begrip van ('n evoluerende) God   -   en dus ook Sy Woord   -   asook die voortbestaan van geloof in Hom, berus op die wetenskap. Só word Jesus se profetiese vraag vervul: "Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?" (Luk. 18:8b).





Monday, 24 January 2011

Sutherlandtragedie laat vrae ontstaan

Die onlangse treurspel by Sutherland laat Jan Alleman nie sonder vrae nie. Wat die twee Franse gedoen het, is onverskoonbaar, maar dit laat vrae.

1. Is die moontlikheid van dié twee Franse se vreemde gedrag nie vooraf voorsien nie? Beriggewing dui daarop dat hulle skynbaar nie 'n normale leefwyse gevoer het nie, en dat die moontlikheid daar was van onwettige wapens in hul besit.
2. Die plaaseienaar sou immers die eerste gewees het om te weet van die moontlike aanwesigheid van potensieel aggressiewe gedrag by die Franse. Indien wel, is dit bevredigend gekommunikeer tussen hom en die SAPD? Waarom het hy die aanvanklike poging tot hul inhegtenisneming vanaf 'n veilige afstand dopgehou? Het hy dalk juis so 'n gedragswyse van die Franse voorsien?
3. Is dit nie 'n tragedie wat voorkóm kon gewees het deur 'n aanvanklik alternatiewe benaderingswyse van die Franse deur die SAPD nie? Gegewe die latente plofbaarheid van die situasie is die vraag óf die SAPD-lede opgewasse was vir die inisiële hantering daarvan. Dié twee leef nie meer om hul kant van die gebeure te vertel nie soos wat die geval sou wees in 'n geregshof, sou hulle lewend in hegtenis geneem gewees het.
4. Die Burger-foto van die swaar-gewapende SAPD-lede is veelseggend. Het die SAPD nie die selfmoord van die voortvlugtendes as 'n moontlikheid voorsien nie? Indien wel, hoe is dit hanteer?
5. Die SAPD-agtervolging van dié twee moordenaars van 'n SAPD-lid staan in skrille kontras tot die opsporingspogings van moordenaars van plaasboere en/of -werkers. Waarom is daar steeds so baie onopgeloste plaasmoorde?

Ek verwag geen antwoorde op dié vrae nie. Dalk sal 'n toekomstige rolprentdraaiboekskrywer, soos in die maak van films oor Romeo en Juliette en Bonnie en Clyde, by die potensiële verfilming van dié treurspel lig op dié vrae kan werp.




Tuesday, 18 January 2011

Seisoen van luister of ontkenning?

Daar bestaan rede om te vermoed dat vanjaar se algemene sinodesitting van die NG Kerk, 10-14 Oktober, 'n deurslaggewende waterskeidingsitting vir dié kerk se toekoms gaan wees. By die lees van die onlangs verskene boek, "Die Trojaanse Perd in die NG Kerk  -  die kanker van evolusie en liberalisme", móét daar tot dié gevolgtrekking gekom word.

In hierdie boek, geskryf deur sewe besorgde leraars en lidmate, lees ons van die radikale ommekeer in NG Kerkdenke aangaande Bybelgefundeerde aangeleenthede soos, byvoorbeeld, die nuutste postmodernistiese Skrifbeskouing en -interpretasies wat besluitnemend-ingrypende gevolge het vir, onder meer, die outentisiteit van die Bybel self, homoseksualiteit, die huwelik en saamwoon, asook die evolusieleer.

Dat daar tans 'n verdeeldheid in kerkleiergeledere hieromtrent bestaan, ly geen twyfel nie. Die gemelde boek verwys na die een groepering as postmoderne "liberales", terwyl laasgenoemde na die ander groepering as "fundamentaliste" verwys.

Benewens ander aangeleenthede waaromtrent die sinode sy huis in orde moet bring, is die sentrale plek en rol van die Bybel asook die opleiding van predikante, twee lewensbelangrike sake.

Met sy aanvaarding van die verslag oor die gesag van die Bybel het die 2002-algemene sinode sy vroeëre Skrifbeskouing amptelik omgekeer. Volgens die navorsingsbevindinge van prof. Rudolf Britz, kom dié klemverskuiwing al sedert 1970 met die postmodernistiese teologie as oorsprong. Die Bybel is nié meer God se woorde óór en vír die mens nie, maar "mensewoorde oor God". Só verdwyn die Heilige Gees as inspireerder van die Woord terwyl Jesus se maagdelike geboorte, kruisdood, opstanding, hemelvaart, wederkoms en Sy Godheid geloën word. Dit het ingrypende implikasies vir predikante-opleiding, want "dosente-teologie" word "predikante-teologie", en kerke beweeg waarheen teologiese skole hulle lei.

'n Vraag aan die NG Kerk is dus: Bevind hy hom in 'n "seisoen van luister", of 'n "seisoen van ontkenning"?






Thursday, 13 January 2011

Wil nie deel van só 'n nasie wees nie

Dit kom voor of Winnie Mandela se reaksie tydens haar spoedoortreding (DB,12.01) kenmerke van diktatoriale gedrag vertoon. En mag, ook gewaande mag, in die verkeerde hande, lei maklik tot korrupsie, want mag neig om te korrupteer.

Korrupsie is tipies van 'n diktatoriale denkingesteldheid; 'n kanker wat ons samelewing terminaal siek hou met 'n zero-prognose vir herstel.

Haar gedrag getuig duidelik van 'n bo-grondwetlike bestaansaanspraak waar ooreengekome grondwetlike reëls nie vir háár geld nie. Die aanvaarding van twee stelle grondwetlike reëls, waarvan die legitiem-geskrewe een vir die gewone burgery geld en die nie-legitiem-ongeskrewe stel reëls slegs vir ANC "hoëprofiele" geld, korrupteer ons grondwet.

Die versuim van hulle wat grondwetlik verkies is om ons grondwet in landsbelang te beskerm en te handhaaf, en tegelyk hul onwilligheid om die vele selfaangestelde diktatortjies in terme van die grondwet tot orde te roep, voorspel beslis niks goeds vir ons toekoms nie.

Die toelating van buite-grondwetlike reëls, geldende slegs vir ANC "hoëprofiele", maak van die grondwet 'n totale bespotting. As die onderhandelde en ooreengekome grondwet, vanweë ANC-manipulering, ons burgery nie langer meer beskerm nie, is 'n diktatoriale bedeling   -   nie vreemd aan Afrika nie   -   ons voorland.

Word Winnie se gedrag dalk gesien as rolmodel, én derhalwe gesanksioneer, in terme van die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie waarvolgens die huidige demokratiese bedeling ten einde laas deur 'n diktatoriale outokrasie vervang gaan word?

Die hemele bewaar ons van 'n nasie waaraan Winnie Mandela, as die "Moeder van die Nasie", geboorte moet gee. Van so 'n nasie wil ek beslis nié deel wees nie.                              (ngn)






Friday, 7 January 2011

Verbeter dringend leerlingpotensiaal

Soos die jaarlikse gebruik, word ook nou weer baie gesê, geskryf en vrae gevra ná bekendmaking van die matriekuitslae. Reg genoeg, wentel heelwat hiervan rondom die gehalte van onderwysers, maar weinig gerep van die krities-belangrike leerlingpotensiaal waarmee hulle moet werk.

Leerlingpotensiaal kom uit huise en -gesinne waarvan die regering hom nie kan distansieer nie. Een van die belangrike vrae is derhalwe wat die regering doen om gesinne sodanig op te hef dat dit lei tot toename in leerlingpotensiaal.

Behalwe dat opvoeding, onderwys en onderrig kultuur-besondere aangeleenthede is, het   -   in moderne samelewings   -   laasgenoemde twee, saam met kurrikulering, spesialis-aangeleenthede geword. Om, daarom, alleen die onderwyser te beklemtoon, hetsy positief óf negatief, is 'n baie eng siening.

Vele swart leerlinge, veral in landelike omgewings, worstel met kultuuragterstande wat betref aanpassing by die skoolstelsel se leerinhoude, onderrigmetodes en -medium, moeilik oorkombare onderwysaangeleenthede. Gesins- en skoolkultuur verkeer nie altyd in harmonie met mekaar nie. Voorgenoemde verklaar tot 'n groot mate waarom die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga onder aan die prestasielys van provinsies verskyn.

S.A. het 'n bevolking waarin die natuurlike hulpbronne tot ons beskikking op die lange duur nié toereikend in kan voorsien nie; ons finansiële hulpbronne hierby ingesluit. Oorbevolking, met min werkgeleenthede, is 'n probleem.

Die ANC-regering moet beslis baie harder werk aan geboortebeperking en die opheffing van sy landsburgers in plaas van die betaling van toelaes aan ongehude moeders, 'n armoede-ontvlugtende meganisme wat kontra-produktief inwerk op die verhoging van leerlingpotensiaal. Dít sal egter 'n ingrypende "kultuurskuif" vereis.

Waarom moet S.A. derduisende Zimbabwiërs akkommodeer ten koste van sy eie mense en hul werkgeleenthede, 'n middel waardeur mense opgehef kan word? Stuur hulle terug huis toe, maar wees dapper en raak eers vooraf van Mugabe ontslae. Ook dít verg 'n byna ondenkbare "kultuurskuif".

Ons móét dringend ons leerlingpotensiaal verbeter. Net dade, en geen gepratery alleen, kan dit doen.







Wednesday, 5 January 2011

Het Die Burger dalk sy eie ras-agenda?

Ek vind dit uiters inkonsekwent, vreemd én onaanvaarbaar dat Die Burger toelaat dat briefskrywers vir my, persoonlik, op 'n beledigende wyse  van rassisme mag beskuldig en, daarteenoor, nié twee agtereenvolgende menings van my   -   waarin ek geeneen beledig of belaster nie   -   een oor Le Cordeur (DB,28.12) en een oor Blade Nzimande (30.12), oor hierdie onderwerp toelaat nie.

Waarom laat u dan toe dat Lawack vir my, persoonlik, mag sê: "Dan het hy (Breitenbach) die vermetelheid om rojaal aan te haal uit sy rassistiese alter-ego...almal kan jul vuil, rassistiese onderklere sien uithang..." (DB,31.03.2010). Vir De Lange laat u toe om te sê: "Breitenbach se...intellektuele beredenering...is bloot 'n skans vir sy diepgewortelde rassisme en in dié opsig verskil hy weinig van die...Dozi's en Steve Hofmeyrs..." (DB,22.04.2010).

Die Burger beweer hy onderskryf die Suid-Afrikaanse Perskode wat ook hòm verbind tot "die waarheid, akkuraatheid, regverdigheid en gebalanseerdheid" (DB,25.02.2008). Waar is die regverdigheid en gebalanseerdheid in dié gevalle dan waar u die een toelaat maar nie die ander nie?

Die Burger is beslis besig om sommige van sy lesers te vervreem. Het Die Burger dalk sy eie ras-agenda?
(ngn)

Monday, 3 January 2011

Ruil rassisme vir altruïsme/ubuntu

Danksy Blade Nzimande se bewering: "Dit is niks anders as rassisme om 'vrot' hoenders aan arm swart Suid-Afrikaners te verkoop nie" (DB,30.12), groet ons 2010 op tipies rassistiese noot. Nizimande gebruik dié pseudo-rassistiese insident vir goedkoop propaganda.

S.A. is hiper-rassensitief. Van Wyk Louw se Ballade van die Bose is hier toepaslik: "Ek (rassisme) is jou wese (S.A.) se ondergrond en ek trap jou (rassistiese) spoor soos 'n goeie hond..." Eugene Marais se Winternag kan só herformuleer word: So wyd as die Bose se kwade, lê S.A. in rassistiese skade.

Betreffende rassisme, blyk dubbele standaarde en halsstarrige ontkenning 'n ongeneeslike kenmerk van die S.A.-samelewing te wees, 'n "spel" gespeel binne óf egte-, óf pseudo-rassisme konteks, elk met eie "spelreëls".

'n Regskape mens kan nié egte rassisme, hoedanig bedryf, óf goedkeur óf daaraan deelneem nie. Ek het dit egter teen pseudo-rassisme waar rassisme-fanatici van valse beskuldigings gebruik maak as sielkundige wapen om hul verfoeilike oogmerke te bereik. Sulke valse beskuldigings kwalifiseer as dade van sielkundige terreur.

Rassisme-fanatici is gou om pseudo-insidente van rassisme na die egte-rassisme terrein te verplaas. Volgens hulle is "vrothoender"-verkope rassisties, maar plaasmoorde en regstellende aksie nié. Dié "rassistiese logika" flous egter niemand nie.

Ook om rasgewys te wil bly by dit wat jy, jou gesin, familie en volk is, maak van niemand 'n rassis nie. Rassisme-agente dink egter nie so nie. Wittes is keelvol vir die beskuldigende gesanik van dié agente wat almal brandmerk wat, byvoorbeeld, weier om op die gemengde-huwelike-wa te spring. Ook dié "rasse-logika" flous niemand nie.

Mag ons hiper-sensiwiteit vir ras in 2011 geleidelik verplaas word na groter respek en agting vir mekaar se menswaardigheid en vryheid van keuse, ongeag wie ons mag wees. Iemand het gesê: Slegs deur te lewe vir ander (altruïsme/ubuntu), is die lewe die moeite werd.