Ek vind dit buitengewoon vreemd om by drie geleenthede, sonder dat ek hom daartoe aanleiding gegee het, in André se sms-visier te wees. Wil hy iets daarmee sê, en, indien wel, wat? Eers waarsku hy Hannes Slabbert dat ek hom "gaan bykom" oor sy brief (DB,17.03). Dan verwys hy my na sy katkisasiehandboek wat hy na 37 jaar weer deurgelees het (DB,23.03). Daarna sê hy vir my hy is 'n "doodgewone ateïs met common sense" (DB,24.03). Hoe hou dié sms'e verband en, verbeel ek my, of werk sy sms'e progressief op na 'n klimaks?
Hy reageer op my brief van 22.03 en stem (blykbaar?) saam dat blindheid in geen konteks 'n norm kan wees nie. Hy laat my verstaan dat hy ná 37 jaar besef dat hy vir "so lank met blindheid geslaan" was betreffende sy katkisasiehandboek (DB,23.03). Met sy: "Ek is 'n doodgewone ateïs...", posisioneer André homself en distansieer hom daarmee van sy katkisasiehandboek.
Dit is droewige nuus, en ek wil vir André sê ek is liewer (fisies) blind met 'n (geestelike) visie, as wat ek (fisies) sien, maar sonder (geestelike) visie is. As Christengelowige vra ek: Maar hoe het André se pad geloop vanaf katkisasiehandboek na ateïsme? Wat het gebeur? Die katkisasiehandboek impliseer die kerk, maar daar is tog ook sy ouers wat 'n doopgelofte oor hom afgelê het; hyself wat waarskynlik voorheen 'n belydende lidmaat was.
Derhalwe die vraag aan die kerk en die gesinslewe: Hoeveel identiese gevalle, soos dié van André, gaan tans deur julle hande, dog sonder dat julle dit besef? Wie wil die eerste klip na André gooi? Is hy nie maar net uitgesproke eerlik oor wat tans, potensieel, in die lewens van sovele ander Christene aan't gebeur is nie? En wat doen ons, as Christene, daaromtrent?