In "Redakteurs moet die stem dik maak oor ras" (DB,15.03), beweer Rhoda Kadalie: "Die rassestryd sal nie bedaar voordat redakteurs en joernaliste rassisme onvoorwaardelik verdoem nie." So simplisties is die oplossing van die rassestryd nie regtig nie. Redakteurs en joernaliste blaas wel die rassevlam aan, maar kan kwalik as die brandstigters uitgewys word.
Die rassebegrip het in ons dag 'n latent-plofbare woord geword. Die rassismeverskynsel het binne die SA-samelewing 'n onuitblusbaar verterende vuur geword wat volgehou voortwoed, periodiek hoog opvlam, doelbewus gemanipuleer word, tot gevaarlike rassespanning lei en ernstige skade aanrig. Dit maak van rasseharmonie 'n onhaalbare droom wat in 'n nasionale nagmerrie kan ontaard.
Die ANC het homself onlangs weer eens bewys as 'n eksklusief rasverabsoluterende organisasie met Jimmy Manyi se rassistiese uitspraak - en die ANC se daaropvolgende beskermende laertrek rondom hom - teen Trevor Manuel, 'n bruin man. In dié rassegeveg vra die minister van verdediging se regsadviseur, Paul Ngobeni, vir Manuel of hy die "koning van die kleurlinge" is. Nie eers die gemeenskaplike lojaliteit aan die ANC vrywaar jou van rassebeskuldigings indien jy nié swart is nie.
Net die siende blindes bly die rasverabsoluterende karakter van die ANC miskyk. Selfs Mandela se aanvanklike rasseverdraagsaamheid moet opnuut bevraagteken word. Was dit bloot tydelik-bedoelde lippediens om die begogeldes te flous?
Nee, die rassestryd is nié wesenlik 'n redakteurs- en joernaliste aangeleentheid nie. Dit lê veel eerder opgesluit in die algemeen menslike selfbewussyn en kollektiewe rassebewussyn. Elke mens beskik, onteenseglik, oor 'n eie rasbewussyn en -identiteit waarin faktore soos rasidentifikasie, -assosiasie en -konformasie van deurslaggewende belang is.
Afrika het 'n sterk eksklusief, solidêr-kollektiewe rassebewussyn, en so ook die ANC wat ras en die swart bewussyn verabsoluteer. Dáárom word die grondwet gemanipuleer wat die akkommodasie van alle rasse waarborg.
No comments:
Post a Comment