Chris van Wyk se "Belydenis van Belhar taal van versoening" (DB,13.06) verwys. Die keuse wat hy, as moderator van die Oos-Kaapse streeksinode, hierin uitoefen om te antwoord op die omvattende Belhar-aangeleentheid, ontgaan nie die aandag nie.
Van Wyk verskaf inleidend 'n opsommende relaas van die werk verrig deur dié sinodesitting. Wanneer hy die Belharbelydenis (BB) daarby betrek, vind hy dit baie belangrik om soos volg aansluiting te vind by Ronel Snyman (DB,12.06) wanneer hy sê: "Die klem van die Belydenis van Belhar op reg en regverdigheid is presies wat Ronel Snyman van Despatch vra... ' Vergelding bring niks positiefs nie'. " Snyman verwys na die moord op die Ugie-vrou, plaasmoorde en diefstal as skynredes vir vergelding deur te impliseer dat vergeldende aanvalle op wittes niks positiefs bring nie. Van Wyk moet verduidelik hoedat hy 'n opmerking, gemaak binne die plaasmoorde-konteks, oordragtelik van toepassing kan maak op die BB. Dit lyk na moedswilligheid, want hoe kan teenkanting teen die BB vertolk word as vergelding?
Opvallend is ook dat my brief, "Die gemeente dra, beskerm die waarheid" (DB,12.06), direk langs Snyman se brief in DB verskyn. Daarin het ek verwys na die verdeeldheid tussen NGK-lidmate oor die BB, versteuring van verhoudinge tussen lidmate onderling en selfs met leraars, destabilisering van gemeentelewens, reaksies wat van ontevredenes mag uitgaan, dat 'n belydenis alleen (sonder God) nie 'n "stukkende land" kan genees nie, en dat leraars se vooraf stemming (en lidmate eers daarná) deur oningeligtes as 'n anomalie gesien word - alles dinge in direkte aansluiting by BB en die sinodale aanvaarding daarvan, dog hieroor swyg Van Wyk.
Ek vind Van Wyk se nie-verwysing na enige van die voorgemelde as buitengewoon vreemd, indien nie verontrustend. Kan BB dalk vir hom 'n hoër prioriteit as NGK-lidmate wees?