Tuesday, 24 July 2012

Vind 'n oplossing eerder intern as ekstern

Jonathan Jansen se artikel, "Die dood op die Kaapse Vlakte" (DB,24.07), verwys. Hierin vind ek 'n welkome en realistiese verskuiwing van blaam vanaf apartheid na dwelmverwante bendegeweld as oorsaak vir dié Vlaktesterftes.

Dood op die Kaapse Vlakte roep assosiatief na vore ook die dood op boereplase. Om begrypliker redes bemoei Jansen hom nie met laasgenoemde nie   -   dit is sy mense van die Vlakte, en nie sy mense van die boerewonings nie. Hy sê sy  "vriende van die Vlakte ontroer my met stories oor begrafnisse". Vir Jansen is dit, enersyds, die dood van sy vriende se mense; vir my is dit, andersyds, die dood van my volksgenote.

Jansen soek die oplossing vir die Vlaktesterftes in die aanwending van die weermag, opleiding en werk vir skoolverlaters, oorlog teen dwelms, gemeenskapsentrums wat opvoedkundige programme aanbied, ouerbemagtiging met sekere vaardighede, hou veral seuns langer op skool en kry onderwysers in die skool om hul werk te doen. Laasgenoemde lyk na 'n akademiese oefening vanuit 'n rektorstoel, want indien jy nie van die huidige onbekwame en onwillige regering   -   as voorwaarde vir die implementering van Jansen se oplossing   -   ontslae raak nie, sal nie veel van sy geïdealiseerde oplossings tereg kom nie.

Op dieselfde geteisterde Vlakte is Jansen egter  "bemoedig deur die energieke teenwoordigheid van ouer wit vroue wat hul tyd, vaardighede en hulpbronne in jong mense belê. Hulle reël kore, velduitstappies, werksessies en motiveringsprekers. Hulle vra nie 'n sent in ruil nie." Dui dit nie op 'n bepaalde ingesteldheid, en is werk aan 'n gesindheidsverandering by die Vlaktebewoners nie dalk nodig nie?

Ek gaan uit van die aanname dat die regering nog lank met ons sal wees en derhalwe lyk 'n eksterne oplossing van die Vlaktekrisis onwaarskynlik te wees. Begin derhalwe eerder soek na 'n interne oplossing   -   'n primêr maatskaplike eerder as 'n politieke oplossing.




Wednesday, 4 July 2012

Mag ons die Bybel wysig om ons te pas?

Soos enige nuwe boek sal ook 'n nuutverskene boek op die horison van die teologiese landskap reaksie by belanghebbendes ontlok. So 'n boek is die onlangs verskene werk van Fritz Gaum (voormalige redakteur van die NG Kerk se "Kerkbode") en George Claassen (bekende selferkende ateis) getitel: "God? Gesprekke oor die Oorsprong en Uiteinde van Alles" (Kaapstad, Tafelberg, 2012).

Onder die opskrif "Fritz Gaum se gelowiges aan die woord", lewer Johannes Comestor kommentaar op die bydraes van teologie-dosente op die Gaum-Claassen boek. Wat die leser veral tref aangaande die teologie-dosente se bydraes tot die boek, is hul uiteenlopende opmerkings oor God en Sy Woord. Vir Louis Jonker laat die Bybel  "ruimte vir 'n diversiteit van Godsvoorstellings"  waarvolgens  "die Transendente in wese nie...'n man of 'n vader is nie" , en Jonker op hierdie wyse 'n lansie vir nie-seksisme breek. Willemien Brummer verwys na 'n  "omheinde Godsbegrip" , terwyl Christina Landman dit teen 'n  "gemeet-en-gepaste God"  het.

Wentzel van Huyssteen verwys na  "die buitengewone belangrikheid van ons as mense as verteenwoordigers van God op aarde, (maar) in geen sin belangriker as die diere nie, maar met 'n addisionele roeping om...te sorg...ook vir al ons susterspesies in die wereld."  Hiermee stel Van Huyssteen die skeppingsproses gelyk aan die evolusieproses. Verdere opmerkings aangaande God en Sy Woord deur Jan du Rand, Johan Buitendag en Anton van Niekerk kan in die Gaum-Claassen boek nagelees word. Kommentator Comestor vra tereg : "Waarom moet ons vir lief neem met teoloë se uiteenlopende en teenstrydige vertolkings?"

Een van die Comestor-kommentaar se lesers beweer dat na mate mense intellektueel toenemend ontwikkel en hul kennis dienooreenkomstig toeneem, die Bybel minder relevant gaan word. Die Bybel sal daarom radikaal hervertolk en selfs totaal herskrywe moet word. Tans is die Bybel, volgens die persoon, net geskik vir  "derdewereld lande waar daar swak onderwys, armoede en sosiale ellende heers."