Wednesday 4 July 2012

Mag ons die Bybel wysig om ons te pas?

Soos enige nuwe boek sal ook 'n nuutverskene boek op die horison van die teologiese landskap reaksie by belanghebbendes ontlok. So 'n boek is die onlangs verskene werk van Fritz Gaum (voormalige redakteur van die NG Kerk se "Kerkbode") en George Claassen (bekende selferkende ateis) getitel: "God? Gesprekke oor die Oorsprong en Uiteinde van Alles" (Kaapstad, Tafelberg, 2012).

Onder die opskrif "Fritz Gaum se gelowiges aan die woord", lewer Johannes Comestor kommentaar op die bydraes van teologie-dosente op die Gaum-Claassen boek. Wat die leser veral tref aangaande die teologie-dosente se bydraes tot die boek, is hul uiteenlopende opmerkings oor God en Sy Woord. Vir Louis Jonker laat die Bybel  "ruimte vir 'n diversiteit van Godsvoorstellings"  waarvolgens  "die Transendente in wese nie...'n man of 'n vader is nie" , en Jonker op hierdie wyse 'n lansie vir nie-seksisme breek. Willemien Brummer verwys na 'n  "omheinde Godsbegrip" , terwyl Christina Landman dit teen 'n  "gemeet-en-gepaste God"  het.

Wentzel van Huyssteen verwys na  "die buitengewone belangrikheid van ons as mense as verteenwoordigers van God op aarde, (maar) in geen sin belangriker as die diere nie, maar met 'n addisionele roeping om...te sorg...ook vir al ons susterspesies in die wereld."  Hiermee stel Van Huyssteen die skeppingsproses gelyk aan die evolusieproses. Verdere opmerkings aangaande God en Sy Woord deur Jan du Rand, Johan Buitendag en Anton van Niekerk kan in die Gaum-Claassen boek nagelees word. Kommentator Comestor vra tereg : "Waarom moet ons vir lief neem met teoloĆ« se uiteenlopende en teenstrydige vertolkings?"

Een van die Comestor-kommentaar se lesers beweer dat na mate mense intellektueel toenemend ontwikkel en hul kennis dienooreenkomstig toeneem, die Bybel minder relevant gaan word. Die Bybel sal daarom radikaal hervertolk en selfs totaal herskrywe moet word. Tans is die Bybel, volgens die persoon, net geskik vir  "derdewereld lande waar daar swak onderwys, armoede en sosiale ellende heers."




No comments:

Post a Comment