Die jaarlikse stakingseisoen het begin. Hoewel die oorsake kompleks is, is ANC-sosialistiese parasitering op die SA ekonomie, volgens my lekemening, 'n belangrike rede daarvoor. Vanweë ANC-onvermoë om sy verkiesingsbelofte van " 'n beter lewe vir almal" (lees: swartes) te realiseer, stel hy die SA ekonomie bloot aan plundering deur die werkersgemeenskap om sodoende hul voortgesette steun te behou.
Die ANC-leierskap stel self die voorbeeld vir plundering; waarom dan nie ook die volgelinge nie? Met die uitdeel van eenmalige kospakkies word die stemme - met 'n leeftydsduur van tot vyf jaar - van hul ondersteuners geplunder, dikwels vir persoonlike gewin soos die ontmaskerde geval van Dina Pule en haar simpatiseerders duidelik uitwys. Diegene wat reeds "goue handdrukke" ontvang het, is verdere voorbeelde van plunderaars.
Met 'n ANC-geskepte "beter lewe vir almal"-omgewing, gaan die massas skuld aan op ongekende wyse, want só word dié verkiesingsbelofte mos vervul. Met onvereffenbaar geakkumuleerde skuld, én 'n onversadigbare drang na nog méér, móét geld iewers gevind word.
Geskooldheid, kwalifikasies en produktiwiteit is lank nié meer maatstawwe vir vergoeding nie. Soos vele ander ANC-kaders, het veral Julius Malema die onnodigheid van dié kriteria vir rykword "bewys". Die ANC-gesanksioneerde geldbron wat getap moet word, is sektore van die SA ekonomie soos die mynbou-, vervaardigings- en landbousektore deur absurde bo-inflasiesyfers looneise daaraan te stel.
Hoe lank nóg kan die SA ekonomie, wat ook die onbeheerde bevolkingsaanwas en toestroming van buitelanders moet dra, die onrealistiese looneise van tot 60% - waar slegs 6% realisties moontlik is - verduur voordat dit, saam met die voosbelaste verbruikers na wie loonverhogings uiteindelik deurwerk en inflasionêr benadeel word, in duie stort? Stakings skaad ons beeld as stabiele beleggingsomgewing en voer ons verder na die armoedeafgrond, dog vir die ANC blyk die ekonomiese gans net nooit op te hou met goue eiers lê nie. (ngn)