Monday, 9 September 2013

Vier lente met voëlkroeg en -restaurant


Lente is hier   -   ten minste op die almanak   -  en die natuurlewe ontwaak uit sy winterslaap; ook die voëllewe. "Ons" seisoenale swaeltjies is terug in hul nes by die agterdeur. Ook 'n kwikkie sit haar broeise sit by die agterdeur. Instink dryf hulle na dié stiller agterdeur-omgewing.

Aan straat- en voordeurkant het my vrou 'n voëlkroeg en -restaurant, ongeregistreer by die SAID, ingerig. Sy beweer die genotvolle akoesties-visuele "inkomste" gegenereer uit dié kroeg-restaurantbedryf, is nié belasbaar nie. Om onveiligheidsredes, egter, hou die blitskatpatrollie 'n voortdurend wakende oog oor dié omgewing.

Ek voorsien die bruinsuikerwater aan die boomtakgeleë "kroeg" op trapleerhoogte; my vrou die kos aan die "restaurant" in 'n houthuisie op 'n besemstok onder 'n boom. Hier kom eet en drink ons voëlvriendjies gratis, verniet en pasella. Daar is die dominante en ook die ondergeskikte besoekers wat eers hul beurt moet afwag. Kroeggevegte is geen vreemde verskynsel nie. Die fynbesnaarde sober duiwe besoek egter nie die kroeg nie; net die restaurant.

Kroegklante bestaan hoofsaaklik uit byevangers, vinke, suikerbekkies en kraalogies   -   in volgorde van dominansie. Klaar gedrink, beweeg hulle na die "geselsboom" hoog in die takke bokant die "restaurant", en kan dan geluister word na, veral, die "vinkesender" se solo-, duet- en kwartet-"uitsendings" vir al wat ore het. Al verstaan ek geen kwetter daarvan nie, streel dit die oor met terapeutiese effek. 

'n Terugflitsende skuldgevoel bly nie uit nie: hoe dikwels het ek nie, as laerskoolseun, met bonsende hart oor 'n windbuksloop na dié vriendjies gekyk nie? Die wilde-kanarie in G.A.Watermeyer se "Ballade van die bloeddorstige jagter" herinner my daaraan met sy: "Ek kelk die sonlig in my keel en rym die rondebessie ryp; met kinderhand het hy, het hy die fluite uit ons bors gegryp." Eina, wilde-kanarie, die waarheid maak seer.


No comments:

Post a Comment